Klein botteltjies, groot gif in skaaktoernooi
Na afloop van die Laerskool Witrivier Skaaktoernooi, was dit geen verassing waarom vier van die Ehlanzeni Skaakvereniging se spelers uitgenooi is om later vanjaar aan die Afrika Jeugkampioenskappe (AJK) deel te neem nie.

Klein Deckan Nkosi (o/10) ding nie soos sy ander maats in dié ouderdomsgroep mee nie, maar speel saam met senior mans soos die 34-jarige Dumisa Nkosi en die 44-jarige Tyrel Flattery.
Deckan het ‘n alghele vyfde plek uit die 33 senior spelers verower nadat hy drie uit sy vyf wedstryde gewen het. Sy spanmaat wat saam met hom in aksie by die AJK gaan wees, Lindokuhle Bhila wat selfs nou eers 11 jaar oud is, het ook saam met die senior vroue gespeel. Hier het sy derde geëindig met die leerder van Hoërskool Rob Ferreira, Teresa Camara in die eerste plek nadat sy net een van die vyf rondes verloor het.
Die 11-jarige van Laerskool Lydenburg, Suné du Preez, wat die enigste speler van die omgewing was wat in 2014 aan die Wêreld Jeug Skaakkampioenskappe deelgeneem het, was ook Saterdag op die bord. Sy het ‘n tweede plek in die dogters o/16-kategorie verower. Penryn College se Jaelene Iyman was eerste in die kategorie met vyf-uit-vyf wenne.
Die blondekoppie van Laerskool Malelane, Kayla Smit het eerste in die o/10-kategorie gekom. Die gr. 2-leerling speel nou slegs vyf maande skaak.
Die gasheerskool se Ruben le Roux het die o/12-seunskategorie oorheers terwyl Laerskool Bergland se Viktor Styger die o/14-seunskategorie gewen het.
“Baie dankie aan Laerskool Witrivier vir ‘n fantastiese dag van skaak en veral Jan Bodenstein vir al die reëlings. Daar is ‘n hele paar nuwe gesiggies in die saal gewees en ons is ook opgewonde oor die dogters se getalle wat na elke toernooi groei,” het die sekretaris van Ehlanzeni Skaak, Karen Taljaard gesê.









































