Curro Nelspruit se o/16’s ook deur na kwarteind
Curro Nelspruit se o/16-rugbyspan is deur na die kwarteindstryd van die Virseker Beeld-trofee. Die span het Saterdag met Hoërskool Fochville in die uitspeelronde met 24-12 afgereken.

Tydens die Mpumalanga-trofee vir mediumskole het die o/16’s teen Hoërskool Barberton in die eindstryd te staan gekom, maar die wedstryd net-net 21-30 verloor.
Die besoekende span van Gauteng se spelers was man vir man baie groter as Curro s’n en het reeds vroeg in die wedstryd die eerste punte op die telbord met ‘n drie aangeteken.
Dit het egter nie die seuns van Curro in hul skoene gestuit nie. Uitstekende, harde verdediging, goeie aanvalspatrone en met goeie balvaardighede het Curro teruggeslaan en twee drieë gedruk om teen rustyd met 12-7 voor te loop.
Die tweede helfde was nóg strawwer en die tuisspan moes talle aanslae van die groot Fochville-spelers afkeer, maar hulle het nie vir een oomblik opgegee nie.
Fochville kon daarin slaag om net een drie in die tweede helfte te druk terwyl Curro nog twee keer onder die pale gaan kuier het.
“Uitstekende dissipline en klipharde verdediging was wat die deurslag vir Curro gegee het en ek is baie trots op die manne,” het die afrigter van Curro Rudolph Schutte gesê.
Die span kom Saterdag 13 Augustus in die kwarteindstryd van die Beeld teen Hoërskool Brandwag in Benoni te staan.
Die o/14’s het ook na die kwarteind deurgedring.
Curro se puntemakers:
• Drieë: Simphiwe Mndawe, Gareth Lloyd, Dihan Putter en Zinzan Cole.
• Verdoelde skoppe: Lloyd en Cole.
























































