Robbies sal nog ‘n jaar vir Beeld-trofee moet wag
Hoërskool Rob Ferreira se o/14-rugbyspan het oor die laaste hekkie gestruikel toe hulle Saterdag in die eindstryd van die Beeld-trofee vir grootskole teen die verdedigende kampioen, Transvalia met 35-19 vasgeval het.
Die rustydtelling was 14-elk, maar as gevolg van “onwrigtende omstandighede” kon Robbies nie hulle wedstrydplan uitvoer nie.
“Dit het ons spelers se momentum vertraag en dit was moeilik om op ons sterkpunte te fokus. Ons het goed in die lynstane gekompeteer, maar het teveel strafskoppe in die tweede helfte afgestaan,” het die afrigter Albert Booyens gesê.
Die voorste driedrukker, Bobby Madonsela, het vroeg in die eerste helfte onder die doelpale gaan kuier met Vusi Ndlovu wat ook ‘n verdere vyf punte op die telbord gesit het. Madonsela, wat hierdie seisoen met 284 punte agter sy naam afgesluit het, het Rob se laaste drie in die kliphardestryd gedruk. Sakhile Ndluli en Ruben Botha het elk een van die drieë verdoel.
Lees ook: Trofee weer tuis by Rob na tien jaar
“Ons het nie tot ons volle potensiaal gespeel nie, maar die wedstryd kon op die dag enige kant toe gegaan het. Daar is harde werk wat vir ons voorlê, maar ons wil volgende jaar die Beeld-kampioene wees,” het Booyens gesê.
Alhoewel die kaptein en skrumskakel, Norman Simpson teleurgesteld oor die uitslag is, is hy steeds trots op die span. “Ons het baie hard gewerk om tot die eindstryd deur te dring.
“Dit was ‘n ongelooflike seisoen, en ek wil vir elke speler, afrigter, ouer en die skool baie dankie vir hulle ondersteuning sê. Ons twyfel nie dat ons volgende jaar die trofee Laeveld toe gaan bring nie,” het Simpson gesê.
Rob, wat net 360 seuns het, was die kleinste skool wat in die grootskole-liga deelgeneem het.
Die feit dat hulle tot die eindstryd deurgedring het, is ‘n bewys dat hulle op dié vlak kompeterend kan deelneem. Hulle was ook die enigste skool in Mpumalanga wat in ‘n Beeld-trofee eindstryd gespeel het.
Dié span het in die kwarteindstryd met Heidelberg Volkskool 42-7 afgereken en in die halfeindstryd net-net Helpmekaar, wat verlede jaar in die eindstryd gespeel het, met 12-11 geklop.
Lees ook: Robbies mik vir die grote
Robbies, die Laeveld hou julle dop – volgende jaar staan die trofee beslis in julle voorportaal.
Foto’s: Marius Nortje












