Cronjé, Drummond en Marais is NHS se beste
Skyfwerpatleet van Hoërskool Nelspruit, Naas Marais, is as die sportman van die jaar tydens die skool se prysuitdelingsfunksie, aangewys.

Marais het met twee goue medaljes by die Mpumalanga-kampioenskappe in onderskeidelik gewigstoot en skyfwerp vir seuns o/17 weggestap. Tydens die SA Skole-kampioenskappe in Bloemfontein het hy ‘n tweede plek met ‘n afstand van 53,93m losgegooi.
By die ASA Jeug, Sub-jeug en Juniorkampioenskappe op Germiston Stadion het hy die stang behoorlik vasgebyt met ‘n afstand van 56,59m, en daarvoor gesorg dat Nellies met sy tweede SA atletiekkampioen vir 2016, kan spog. (Werner Bouwer het in Bloem goud in die spiesgooi verower). Marais het met sy vorige beste afstand, 55,75m op Barberton, sy kleim as Ehlanzeni se nommer een afgesteek.
Lees ook: Nellie-atleet gaan van glorie tot glorie
Hy is ook na afloop van sy atletiekprestasies vir die AUSC streek-5 se Jeugspele wat Desember in Luanda, Angola plaasvind, gekies.
Die vlugvoetige Suid-Afrikaanse-skolespannetbalspeler, Carmen Cronjé en die huidige Suid-Afrikaanse Skoleswemkampioen, Liza-Mari Drummond deel die trofee vir sportvrou van die jaar.
Cronjé het saam met die SA-span aan ‘n internasionale toernooi in Nieu-Seeland deelgeneem. Sy was ook tot die Mpumalanga- en SA Provinsialekampioenskappe se spanne verkies. Sy is by laasgenoemde toernooi as een van die top-35 spelers aangewys.
Lees ook: Nellie-netbalspeler haal SA oefenspan
Drummond is by die SA Skole-kampioenskappe as die wenner in die vryslag gekroon en het ook ‘n bronsmedalje in die 50m-borsslag en 100m-vryslag om haar nek gehang. By die Mpumalanga-kampioenskappe het sy drie nuwe rekords in die 50m- en 100m-vryslag, en 50m-borsslag opgestel.
Hendrik Janse van Vuuren se naam is vir die buitemuurse sportman van die jaar uitgeroep. Hy is tot die o/19 Suid-Afrikaanse diepseehengelspan verkies en het ook aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem. Janse van Vuuren is as Mpumalanga se junior hengelaar van die jaar aangewys.
Lees ook: Geen keer aan Drummond
‘n Lid van die Suid-Afrikaanse Goudpankampioenskappe, Sonet Vermaak het die trofee vir buitemuurse sportvrou van die jaar omhoog gehou. Tydens die Nasionale Goudpankampioenskappe het sy ‘n eerste plek in die o/16-afdeling verower. By die Wêreldkampioenskappe in Kalifornië, het sy weer ‘n goue medalje in die o/16-afdeling in haar sak gesteek en ‘n derde plek in die vroue-afdeling ingeneem.
Lees ook: Defending champions panning for gold again


