Jong krieketspan is provinsiale wenners
Laerskool Malelane se o/11-krieketspan het 'n goeie seisoen gehad en is onlangs as provinsiale wenners gekroon.
Na ‘n skitterende vertoning teen Laerskool Marietjie van Niekerk in die eindstryd verlede Dinsdag in Bethal, is Laerskool Malelane se o/11-krieketspan as Mpumalanga-wenners vir mediumskole aangewys.
Die Lanies het tydens die eindstryd die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Marietjie van Niekerk is almal uit vir 41 lopies. Laerskool Malelane het die telling met nege paaltjies staande verbygegaan.
Abdullah Patel het met die bal uitgeblink en agt paaltjies vir slegs 15 lopies geneem. Rayyan Patel en Cilliers van Heerden het onderskeidelik 18 en 12 – nie uit nie – met die kolf behaal.
Mnr. Buks Botha is die span se afrigter en me. Tersia Diedericks het as tellinghouer handjie bygesit.
Laerskool Malelane is baie trots op die seuns en daar word uitgesien na die 2017-krieketseisoen.
