Atlete moet hul eie doelwitte najaag
Atletiek by alle skole is voluit aan die gang.
Meeste van die interhuisbyeenkomste is reeds afgehandel. Daar heers ‘n gees van opgewondenheid onder atlete, afrigters, ouers en ondersteuners.
Die Hi-Tech Interlaer en Mediclinic Nelspruit Interhoër is die skouspel van skoleatletiek in die Laeveld en dan is daar nog die uitdunproses vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe, SA Skolekampioenskappe, kringbyeenkomste, sub-distrikte, distrikskampioenskappe en die Mpumalanga-kampioenskappe om na uit te sien.
Die groot vraag is: Wat is sukses tydens ‘n groot byeenkoms soos die interhoër of die interlaer?
Is dit om deel van die wenspan te wees of is dit om ‘n medalje ryker te word? Lê jou sukses daarin om deel van jou skool se span te wees of is dit die ondersteuners langs die veld?
Ongelukkig gee die samelewing nie erkenning vir die wat nie om die podium staan nie.
My vraag is egter – wie bepaal of ‘n atleet suksesvol was of nie? Die atleet of die samelewing?
Die realiteit is, almal kan nie ewe goed wees nie. Elke atleet moet op die dag net sy beste gee.
Natuurlik is die ideal om ‘n persoonlike beste prestasie op te lewer. Die belangrikste is om jouself te wen.
‘n Medalje wat atlete wen is slegs ‘n bonus, omdat jy jouself oortref het.
Afrigters en ouers – wees jou atleet se mees lojale ondersteuner. Vergeet van die medaljes!
Teleurstellings? Dit is ‘n emosie wat onvermydelik is, maar dit is deel van die sport. Sien dit as ‘n lewensles en leer daar uit.
Staan op, kyk die wêreld in die oë, pak die bul by die horings en kom volgende jaar sterker terug.
Is een van jou doelwitte om die provinsiale span te haal wat SA’s toe gaan? Sodra jy egter jou doelwit bereik, het jy nie verder as dit gedink nie. Die byeenkoms moet dan nog plaasvind…
Die atleet onderpresteer in meeste gevalle omdat hulle nie ‘n volgende mikpunt opgestel het nie.
Dit is ‘n goeie idee om ‘n realistiese, uitdagende doelwit te stel wat gekoppel is aan ‘n spesifieke tyd/hoogte/afstand vir die seisoen wat jy wil bereik met die belangrikste byeenkoms van die seisoen.
Om deel van die Mpumalanga-span te wees is ‘n halwe doelwit. Stel jou doelwit reeds wat jy graag by interlaer, interhoër en by SA’s wil bereik.
Medaljes is ‘n bonus, jou grootse teëstander is jy self.
Dit gaan nie oor hoeveel keer jy val nie, maar oor hoeveel keer jy opstaan.
Lekker deelneem en geniet dit!


