Nelspruit verslaan WRK
Nelspruit Rugbyklub (NRK) het Saterdag op galop gegaan toe hulle Witrivier Rugbyklub (WRK) in die Protours MRU Premierliga met 50-24 afgeransel het.
NRK lê na sewe wedstryde steeds tweede op die punteleer met 28 punte. Sasol is steeds die voorlopers met die dat hulle die naweek met Middelburg afgereken het.
NRK en WRK het mekaar in April ontmoet met Witrivier wat die wedstryd met vyf punte, 29-24 gewen het.
Jacques Rabe, Jacques Taylor, Wilmaure Louw, Tjokkie van Tonder, Johan Swart en Dylan Soderlund het almal vir NRK gaan druk. Jozua de Jager het twee keer vir sy span onder die pale gaan kuier.
Van Tonder het met vyf doelskoppe pale toe geslaag.
WRK het doelloos op die aanval voorgekom en het min impak op Nelspruit se verdediging gehad.
“Ons het probeer om die gees tussen die spelers reg te kry. Ons het ‘n hele paar spelers wat met beserings sukkel en ons het nie verwag om die kragmeting te wen nie, maar die ouens se koppe was reggewees,” het die afrigter van NRK, Piet van Tonder gesê.
Kaptein en agtsteman Francois Koch is as die voorspeler van die wedstryd aangewys terwyl Jaun Bester vir sy spel in die agterlyn beloon is.
NRK kom komende naweek teen Middelburg te staan.





