Local sportSport

Glorie wink vir die iCollege Pumas

Die span wat die hongerste is vir die oorwinnning en die minste foute maak, gaan met die louere wegstap.

Die iCollege Pumas het Saterdagaand vir die eerste keer sedert die ontstaan van die SuperSport-Uitdaagreeks na die eindstryd deurgedring.
Dit nadat hulle met ‘n oorwinning van 30-17 op Mbombela Stadion die Cell C Sharks se aanloop gestuit het. Die Pumas kom dus Sondag teen die Tafel Lager Grikwas te staan, nadat laasgenoemde in Kimberley met die Toyota Cheetahs afgereken het.
Ondanks hierdie twee oorwinnings, met die Pumas wat die enigste onoorwonne span in die reeks is, geniet nie een van die spanne tuisveldvoordeel nie en sal hulle eersdaags na Bridgton-sportgrond in Oudtshoorn reis om die koring van die kaf te skei.
Die Pumas het uit die staanspoor die Sharks se verdediging onder geweldige druk geplaas, maar die wedstryd is van baie ritme ontneem met ongedwonge, individuele foute.

Die reeks se topdriedrukker, Ruwellyn Isbell, het kort na die afskop, eerste vir die tuisspan agter die doellyn gaan kuier.

Die Sharks het nie lank geneem om ‘n teenaanval te loods nie en is beloon vir hulle insiatief om bal in hand te hou, deur Gideon Koegelenberg wat ‘n drie vir hulle aangeteken het. Beide spanne het vorentoe egter geen ruimte vir mekaar toegelaat nie en teen alle verwagtinge in was sake teen rustyd gelykop.
In die tweede helfte het oorgretigheid die tuisspan duur testaan gekom. Die Sharks het teruggeslaan met flank Kwanda Dimaza wat soos ‘n wafferse vleuel deur die Pumas se verdediging gesny en ‘n welverdiende drie gedruk het. Maar, hulle 17-13-voortou was die laaste sien van die blikkantien. Die Pumas het die sluise oopgemaak en geen verdere beweegruimte vir die Sharks toe-
gelaat nie.

Aanval na aanval is van stapel gestuur. Sterk skrumwerk het gesorg vir omgekeerde besit en ‘n daaropvolgende drie deur die Pumas se De Jay Terblanche het hulle weer laat voor loop.
Dit was duidelik dat die klein jakkalsies die meeste skade aan die wingerd aanrig met Stefan Ungerer wat kort voor die einde, die spyker deur die doodskis gedryf het. Die Sharks se doppie is finaal geklink met die voorste puntemaker in die reeks, Chris Smith wat die laaste skop deur die pale gestuur het.

“Hoewel die wedstryd die Pumas se karakter goed weerspieël het, lê daar harde werk voor,” het direkteur van Puma-rugby, Jimmy Stonehouse gesê.

“Ons was nie klinies genoeg nie, en daar was heeltemal te veel individuele foute,” vertel Jimmy en voeg by dat hulle die komende naweek sal fokus op hulle sterkpunte, maar op die ou einde gaan die span wat die hongerste is vir die oorwinnning en die minste foute maak, met die louere wegstap.

Lees ook: Die Skim praat oor…

Foto’s deur Hennie Homann/phohotoxpress.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button