Malelane karatekas wys hul dissipline en veggees tydens jaareindgradering
Karatekas van die Malelane-dojo van die Japan Shotokan Karate Association (JSKA) het Saterdagmiddag tydens hulle jaareindgradering met ritse flink bewegings en aksiebelaaide skyngevegte gewys dat niemand met hulle moet skoor soek nie.
Sewentien karatekas van die Malelane JSKA-dojo moes Saterdagmiddag tyden hul jaareindgradering in die Hervormde Kerk se saal aan hul senseis demonstreer hoe goed hulle die basiese bewegings ken. Die jongelinge het van wit tot bruin bande gewissel.
‘n Goeie geheue was definitief nodig om die ritse bewegings in die korrekte volgorde en op presies die regte manier te doen.
Daarna moes twee karatekas die bewegings prakties toepas in ‘n skyngeveg teen mekaar. Hulle moes bewys dat hulle vreesloos kan lyk en steeds hul beste gee, al is die teenstander groter of meer ervare.
Die skyngevegte tussen die ouer en meer ervare karatekas en ‘n paar van die senseis het herinner aan die aksietonele van karateflieks en die jonger karatekas het geensins teruggedeins nie.
Na elke vlak het die beoordelaars die deelnemers se assessering voltooi en almal is hierdie jaar na die volgende vlak bevorder.
FOTO’S: Karatekas move to the next level with the right punches and kicks
By die Malelane-dojo kry die leerlinge twee keer ‘n jaar kans om bevordering – in Julie en Desember. Na elke bevordering kry hulle die geleentheid om meer gevorderde tegnieke te leer en kan hulle werk na ‘n swart band – die hoogste vlak in karate.
LEES: Well-practised moves earns karatekas new colours
Na die gradering is Mias Saaiman, Luan Small, Qhamani Salman en Ruan Maritz as karateka van die dag aangewys. Qhamani was ook die junior karateka van die jaar en Alex Odendaal, die senior karateka van die jaar.

Sensei Grobbies van der Westhuizen en haar drie mede-instrukteurs, Lourens, Carel en Patricia van der Westhuizen, sê dat karate ‘n baie positiewe invloed op die leerlinge se lewens uitoefen.
Karatekas leer om meer selfvertroue en selfdissipline te hê, hulle leer van dissipline en respek en terwyl hulle leer hoe om hulself te verdedig, verbeter hulle reflekse ook.
WATCH: Kenya’s Karate Grannies Master Self-Defense
Grobbies rig al van 1996 karatekas in die Malelane-dojo af en nooi alle belangstellendes tussen die ouderdomme van ses en 100 om by hulle aan te sluit.
Oefening sal in die nuwe jaar hervat en geskied Maandae en Woensdae vanaf 18:00 by die Hervormde Kerk.
