Liefde vir die spel seëvier by Malelane Rugbynaweek
Spelers vanoor die provinsie en Limpopo het die afgelope naweek in Malalane hulle rugbyspiere gestrek vir die nuwe seisoen.
Malelane Rugbyklub se jaarlikse rugbynaweek het spanne uit verskillende ligas die kans gegee om tydens vriendskaplike wedstryde kragte te meet.
Die geleentheid was weereens ‘n treffer en spanne en ondersteuners het oor die twee dae onder elke beskikbare koelteboom gekamp.
Die naweek het Vrydagaand met ‘n wedstryd tussen Uplands XV en KaMhlushwa se o/19-span afgeskop. KaMhlushwa se jongelinge het gewys dat hulle hul man kan staan teen Uplands se ervare span, maar Uplands het op die ou einde die oorwinning behaal.
Daarna het Malelane se tweede span teen Witrivier se derdes uitgedraf en met ‘n gelykoptelling geëindig. Komatipoort vs Middelburg het die aand afgesluit, met die hoëveldse span wat die Impalas geklop het.
LEES: Impalas vier Puma-liga oorwinning, beloon ster spelers
Die laaste wedstryde het op ‘n paar beserings onder die Impalas van Komatipoort uitgeloop, maar spelers was vasberade om nie bes te gee nie en het einduit op die aanval gebly.
Saterdagoggend het die Ou Manne teen die Laeveld Leeulopers uitgedraf, met laasgenoemde wat die oorwinning behaal het.
Die Leeulopers is ‘n rugbyspan vir spelers 30 jaar en ouer wat steeds per geleentheid wil rugby speel, terwyl die Ou Manne ‘n mengsel van afgetrede Onderbergse spelers en ‘n paar jongelinge was.
Die Laeveld Leeulopers het die toeskouers laat lag en hul teenstanders laat koppe skud toe hulle tydens die wedstryd op bevel almal op die veld platval.

Nelspruit 3 het teen Matsulu te staan gekom en die laasgenoemde het bewys dat hulle gedugte teenstanders is. Nelspruit was egter die wenners.
Matsulu en KaMhlushwa (wat Vrydagaand gespeel het) se rugbyklubs het ‘n lang geskiedenis met die Malelane Rugbyklub en gaan hierdie jaar by die Ehlanzeni Burgemeester Reserwe-liga aansluit.
Andries Visser het later die middag namens RCL Foods ‘n stel rugbytruie, -broeke en kouse aan Petros Sambo van die Matsulu Rugbyklub oorhandig. KaMhlushwa s’n sal ook binnekort aan hulle besorg word.

Die truie is meer as twee dekades gelede, in TSB se dae, aan die klubs bewillig en hulle is belowe dat dit oorhandig sal word wanneer hulle volwaardige klubs is.
Die klubs het destyds gereeld aan ligawedstryde deelgeneem. Malelane Rugbyklub en RCL Foods hoop om hulle te ondersteun om nog verder te groei.
Die rugby is voortgesit met Ohrigstad se Ratels teen Witrivier 2 met Witrivier wat as wenners afgedraf het, gevolg deur die Pumbas van Hoedspruit vs Middelburg. Die hoëveldse span het weereens hul teenstanders geklop.
FOTO’S: Teams from various leagues clash in Malelane friendlies
Lydenburg 1 vs Nelspruit 2 was daarna aan die beurt en die Nelspruiters het hard gewerk om telkens agter die pale te gaan kuier.
Louis Trichardt het vir Nelspruit 1 aangevat, maar die laasgenoemde het die Limpopo-span oorrompel.
Die Letaba Rugbyklub het al die pad van Tzaneen af gekom om teen Witrivier op te draf. Ten spyte van hulle geesdrif kon hulle nie punte aanteken nie en moes kyk hoe Witrivier die drieë inryg.
Die Mbabane Jaguars van Swazuland het die gashere, Malelane, se eerste span aangedurf om ervaring op te bou. Malelane was egter te sterk vir die span en die wedstryd is kortgekniop.
Die gashere het toe die naweek met ‘n kort wedstryd teen Hazyview afgesluit.
Spanne het slegs ‘n paar weke oor voor die nuwe rugbyseisoen na verwagtig aan die einde van April begin.
