Jong sportsterre sê mekaar die stryd aan by Nellies se sportnaweek
Tydens dié jaarlikse sportnaweek het die volgende skole deelgeneem: laerskole Nelspruit, Witrivier, CR Swart van Middelburg, Kruinpark van Secunda, Midstream en Tzaneen.
Bykans 1 000 sportsterre het onlangs by Laerskool Nelspruit en Laerskool Witrivier bymaargekom om hulle staal op die rugbyvelde en netbalbane te wys.
Tydens dié jaarlikse sportnaweek het die volgende skole deelgeneem: laerskole Nelspruit, Witrivier, CR Swart van Middelburg, Kruinpark van Secunda, Midstream en Tzaneen.

Onder die tuisspanne het Witrivier ses van die 16 rugbywedstryde gewen, een gelykop gespeel en nege verloor. Die eerste span het gesorg vir die grootste seëvier, met ‘n telling van 25-5 teen CR Swart. Die o/10’s het erg kleigetrap en met die grootste nederlaag van 50-0 teen Tzaneen weggestap. Dié span van Limpopo se achilleshiel was die o/9’s – die enigste span wat nie teen die Laevelders kon koning kraai nie. Slegs die o/9’s van Nellies en Witrivier kon die wa deur die drif kry.
Tzaneen het Witrivier se eerste span 40-0 geklop, die o/11’s 46-0, en die o/10’s 50-0. Teen Nelspruit het Tzaneen se o/10’s 40-0 gewen, die o/11’s 17-0 en die tweede span 43-0. Nelspruit se eerste span het naelskraaps die kragmeting met ‘n telling van 14-10 verloor.
Slegs Laerskool Nelspruit se o/11 A’s het verder teen een span van Kruinpark asook Midstream vasgeval, terwyl die res van die wedstryde oortuigend gewen is en die eerste span op Laerskool Witrivier se velde gelykop teen Midstream gespeel het.

Dit was egter ‘n dag van teenoorgestelde welslae op die netbalbane. Dit het broekskeur gegaan waar Witrivier slegs daarin kon slaag om sewe wedstryde van byna 30 deur te trek. Twee van die wedstryde wat gewen is, was teen Nelspruit, een teen Tzaneen, drie teen Kruinpark en een teen CR Swart. Albei die o/10 B se wedstryde, teen onder-skeidelik Kruinpark en CR Swart het gelykop geëindig, en so ook die o/12 A-span teen CR Swart.

Nelspruit het 23 wedstryde gewen en kon slegs in nege wedstryde nie die mas opkom nie. Nellies het teruggeslaan teen Tzaneen en met sewe wedstryde uit die agt die loef afgesteek. Kruinpark asook CR Swart was die enigste spanne wat Nellies opdraende kon gee, maar die tuisspan kon daarin slaag om 10 van die 16 wedstryde teen die skole te beklink.
Foto’s deur Johan Orton
Sport the ultimate winner at Barberton Junior rugby tournament
Gateway Christian School archers hit the target at SACSSA Inter-School Archery Championships
