Muscle Mulisha ook nou in die sakkie
Net gedurende die afgelope maand is Stefan Marais as Mpumalanga-kampioen, SA-kampioen en mees onlangs Muscle Mulisha-kampioen aangewys.

Klein maar getrein! ‘n Beter beskrywing vir plaaslike liggaamsbouer, Stefan Marais (20), is daar nie. Hy bewys keer na keer dat grootte nie altyd saakmaak nie en dat hy enige dag met die grootmenere kan saamspeel.
Net gedurende die afgelope maand is hy as Mpumalanga-kampioen, SA-kampioen en mees onlangs Muscle Mulisha-kampioen aangewys, laasgenoemde langs die naaswenner, , Juandre Nel wat 30 kg swaarder geweeg het.
Dit was die groot dag waarvoor hy al maande lank voorberei het – die jaarlikse Muscle Mulisha Grand Prix IV. Hy het nie een nie, maar twee goue medaljes by die kompetisie ingepalm.
Lees ook: Bybelvers gee liggaamsbouer vertroue om kampioen te word
Op die verhoog het hy ‘n onmiskenbare stem hoor skree. “Ek het my kop gedraai, en daar sit my pa wat ek twee jaar gelede gesien het,” vertel hy, wat bygedra het tot ‘n warboel van emosies toe hy die twee medaljes oor sy kop trek.
Marais vertel dat hy aanvanklik besluit het om in twee kategorieë deel te neem – die ope-klas en o/80 kg-seniors. Maar, die oggend toe liggaamsbouers moes inweeg, was hy een kilogram te swaar om aan die laasgenoemde deel te neem.
Om te onttrek sit egter nie in Marais se broek nie. “In die klas waarin ek myself toe inskryf, word jou liggaam vergelyk met dié van onder andere Arnold Schwarzenegger, Lou Ferrigno en Frank Zane, toe hulle in classic physique juniors deelgeneem het,” vertel hy.
KYK: Plaaslike kampioen in liggaamsbou praat oor pad na herstel
“Dit was by verre my beste vertoning in terme van uitvoering en algehele ervaring. Die grootste name in SA, soos Jaco de Bruyn, George Herwill, asook Stefan Estment (coach Essie) en ‘Machine Gun’ Willem se atlete. Dit was ‘n voorreg om hulle te ontmoet,” het hy gesê.
Hy voeg by dat Muscle Mulisha Grand Prix IV weer eens ‘n bewys was dat die grootste liggaamsbouer nie altyd met die louere wegstap nie. “Eerder die atleet wat die beste kondisie en proporsie het.”
Marais beplan om dinge vir eers ‘n bietjie rustiger te vat. “Wanneer ek egter weer deelneem, gaan ek saam met die seniors deelneem, al het ek nog twee jaar oor om as junior deel te neem,” vertel hy, en voeg by dat hy nou sy aandag gaan verskuif na sy eie aanlynbesigheid, SM Bodybuilding, en groepklasse by Training Edge.