Toegewyde meisieskrieketspeler is as’t ware ‘n roos tussen die dorings
Karli se oupa het van kleins af 'n belangstelling in die sport by haar gekweek.

Krieket vloei beslis in Karli Nel se are. Die 19-jarige van Hoërskool Bergvlam speel die sport al sedert die ouderdom van drie. Sy vertel dat haar oupa ‘n liefde vir krieket by haar aangekweek het.
“My oupa het my ingekry by die sport. Ek onthou hoe hy, toe ek nog baie klein was, die sport aan my verduidelik het, en ek het vinnig ‘n belangstelling daarin ontwikkel.”
Behalwe haar uitstekende vaardigheid in krieket, is Nel ook ‘n kranige netbalspeler en presteer sy ook in atletiek.
LEES OOK: Kokkedoor-reis op ‘n einde vir Pieter, maar Anmar kan titel wen
“Ek is lief vir alle sportsoorte en het vir die afgelope twee jaar eerste span netbal vir die skool gespeel. Ek is ook baie betrokke by atletiek, maar my grootste liefde sal altyd krieket wees.”
Wat haar prestasies op die krieketveld merkwaardiger maak is dat Nel op laerskool die enigste meisie in die skool se krieketspan was.
“Op Laerskool Delmas het my spanmaats my die noemnaam ‘Roos’ gegee omdat ek die enigste roos tussen die dorings was,” vertel sy laggend.

LEES OOK: Leilani stap 27 km in Mbombela.
Gelukkig het Nel haar nie aan die opmerkings gesteur nie en haar passie vir die sport het op hoërskool voortgegaan. Sy is gekies vir die Ehlanzeni Titans meisieskrieketspan en is opgewonde om Mpumalanga op nasionale vlak te verteenwoordig. Die skamerige krieketfoendie skryf haar sukses toe aan ‘n toegewyde span wat ongelooflike spangees toon tydens wedstryde.
“Vir my is die hoogtepunt altyd wanneer ons ‘n paaltjie neem en as ‘n span saam vier.” Sy reken dat haar Achilleshiel op die oomblik haar boulvermoë is.
LEES OOK: Marlia vierde in Suid-Afrika in gimnastiek
“Dis vir my die lekkerste om te boul, en ek werk graag hard daarin om te verbeter. My doelwit is om eendag ‘n bobaas bouler en kolwer te wees.”
Van die veld af geniet Nel die natuur, en veral om met haar hond te stap. Op die oomblik is haar korttermyn-doelwit om 50 paaltjies te neem en in die nabye toekoms hoop sy dat sy eendag die Suid-Afrikaanse meisieskrieketspan sal verteenwoordig in Proteadrag.
LEES OOK: Steve roer die hartsnare in Mbombela
“Ek wil graag ook noem dat ‘n borg my onlangs met nuwe krieketuitrusting geborg het. Hulle wil graag anoniem bly, maar ek wil net my dank teenoor hierdie mooi daad uitspreek.”
