Slimkop wil stigma oor vrouerugby in die kiem smoor
Rugby is immers so deel van die Suid-Afrikaanse kultuur soos biltong en koeksisters.
Die skoner geslag moet liefs nie in ‘n skrum sak of pale toe skop nie. Sê wie?
Margo Meyer, wat verlede jaar by Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het, maak vinnig opslae in dié sport en keer die stereotipe dat rugby ‘n manssport is, behoorlik op sy kop.
Rugby is immers so deel van die Suid-Afrikaanse kultuur soos biltong en koeksisters, en meisies word eintlik nóg meer aan dié sport blootgestel as aan oorwegend vrouegedomineerde sportsoorte soos netbal.
Margo se belangstelling in rugby is geprikkel nadat sy ‘n 90-dag aanspreeklikheidsuitdaging aanvaar. In die proses hoop sy om genoeg meisies te betrek vir ‘n volledige span, en die stigma oor vrouerugby in die kiem te smoor.
“Ek het verlede Oktober besluit om myself so veel as moontlik uit te daag. Die uitdaging behels 90 dae wat verbygaan en ek kan self besluit of ek dit net gaan laat verbygaan, en of ek eerder iets gaan hê om daarvoor te wys.”
Die kranige rugbyspeler oefen tans by die Witrivier Rugbyklub as skrumskakel en vertel dat sy al van laerskooldae af saam met die seuns bal gegooi het. Dis eers op die ouderdom van 18 jaar wat sy besluit het om meer by die sport betrokke te raak, vertel sy.
“Ek glo indien vrouerugby meer algemeen in die omgewing was, sou ek vroeër daarby betrokke wou raak.” Margo volg ‘n streng oefenprogram wat onder meer swoeg en sweet in die gimnasium en op die rugbyveld insluit. Sy het gou vordering begin opmerk.
“Dit was gedurende my matriekeindeksamen, so ek was uiters bedrywig, maar het steeds elke dag geoefen sonder om my studies af te skeep.” Sy het sewe onderskeidings losgeslaan.
“Ons was die afgelope vakansie vir omtrent twee weke in Barra, waar ek met twee vrouerugbyspelers van Tukkies bevriend geraak het. Hulle het my verder gemotiveer om deel van die sport te word.”
Margo vertel dat haar broer, wat tans by die Harlequins in Pretoria betrokke is, haar grootste inspirasie is.
Ek kyk op na hom en sal graag in sy voetspore wil volg.”
Haar gunstelingrugbyspan is die Blou Bulle en sy hoop om eendag vir die Bokke uit te draf. Volgens haar is daar nog ‘n oorheersende stigma wat vroue in rugby betref.
“Ek wil baie graag hê vrouerugby in Suid-Afrika moet groei. Gedurende hierdie afgelope drie maande waar ek myself uitgedaag het, het ek agtergekom hoeveel meisies eintlik opkyk na my en daarom wil ek dit gebruik om meer meisies betrokke by hierdie sportsoort te kry.”
Sy kry egter dikwels opdraende van ander, maar laat nie toe dat dit haar van haar mikpunt af weghou nie.
“Ek het myself geleer om kritiek na aansporing en harder werk om te skakel. My ouers staan ook bankvas agter my, en daarsonder sou ek dit nie kon doen nie,” vertel sy. “Ek word soms uitgekryt as managtig. Ek forseer myself egter om dankie te sê, en verder op my oefening te fokus.” In baie aspekte het die sport haar ook tawwer gemaak en sy sê: “Nie net emosioneel nie, maar ligaamlik ook.”
Haar raad aan enige meisie wat rugby speel of wil speel is eenvouding: “Klim uit jou gemaksone uit en daag jouself uit. Hoe meer vroue betrokke gaan raak, hoe meer algemeen gaan vrouerugby word en die stigma daarteen sal uitsterf.”
VIEW: Gallery of swimmers giving it their all at Uniswim Open Water Challenge and view the results
