Longtom Hengelklub katrol groot pryse in
Lydenburg se hengelaars maak reg vir die Nasionale Hengelkampioenskappe en opkomende Kwena-bonanza.
Die Longtom Hengelklub van Lydenburg het tydens die eerste naweek van Oktober die waters van Chrissiesmeer gaan aandurf.
Op 7 Oktober het die klub sy prysuitdeling gehou, en die lede wat op 3 en 4 November aan die Nasionale Hengelkampioenskappe by die Vaaldam gaan deelneem, geluk toegewens.
André de Klerk is vir die SA senior B-span gekies en is ook tans die klub se victor ludorum. Deon Coertsen is vir die SA senior A-span gekies, wat vroeër vanjaar in die Trichardtsfontein-dam gehengel het. Die span het ‘n algeheel tweede plek behaal en Coertsen is die seniorklubkampioen van die jaar.
Jaco Beyneveld, die klubvoorsitter, is in die SA A-span opgeneem en is tot die Suid Afrikaanse Varswater Oewerhengelfederasie se A-span verkies. Hy gaan in November die land in Namibië verteenwoordig. Hy is ook algeheel tweede in die seniorafdeling van die jaar.
Christo Labuschagne is as die derde beste juniorhengelaar van die jaar aangewys en het die trofee vir die beste vordering ontvang. Deur die loop van die jaar het hy ‘n eerste plek in die o. 19-werpkampioenskappe gewen en die o. 19-span het ‘n tweede plek in vergooi gewen.
Zafar Seepye is die o. 19-juniorhengelaar van die jaar. Hy het in Julie verlede SA in Namibië verteenwoordig en sy span het die reeks gewen. Ahmad Seepye is algeheel derde in die seniorafdeling van die klub. Hy was deel van die SA hengelspan wat vroeër vanjaar ‘n tweede plek by die Trichardtsfontein-dam behaal het.
Lees ook: Die Pumas slyp hul tande in George
Cynthia de Klerk is die klub se dameskampioen. Sy het in Februarie aan die SA hengelkampioenskappe in Bloemhof deelgeneem en haar span het ‘n derde plek losgehengel.
Hengelaars word uitgenooi om op 11 en 12 November aan die 2023 Kwena-bonanza by die Kwenadam deel te neem. Die eerste prys is R10 000, tweede prys R5 000 en die derde prys R3 500. Daar is ook pryse vir die grootste karp, baber en daar is baie gelukkige trekkings op die spel.
Die kostes beloop R450 per inskrywing, wat twee hengelaars en twee stokke per hengelaar insluit.
Vir meer inligting, skakel Jaco Beyneveld by 083 461 2934 of Ahmad Seepye by 060 509 9381.
Agter: Angelique Engelbrecht, Jaco Beyneveld, Deon Coertsen, Zafar Seepye en Christo Labuschagne. Voor: Emma en Brody Coertsen.





