Strawwe kompetisie lewer puik prestasies by Hoërskool Nelspruit se tuisatletiekbyeenkoms
Gegewe die vroeë stadium van die nuwe seisoen en die ongemaklike hitte, was dit half te wagte en te verstane dat prestasies van bo 800 punte op die ASA-tabel maar aan die skraal kant was.
Oor die afgelope jare was en is die tradisionele tuisatletiekbyeenkoms ‘n hoogtepunt op Hoërskool Nelspruit (NHS) se jaarkalender en gewis ‘n geleentheid wat nie sommer misgeloop word nie.
Vanjaar se McDonald’s Tuisatletiek-byeenkoms het op Saterdag 27 Januarie in ongemaklike weersomstandighede plaasgevind.
Dit was veral die sterk spanne van Seuns en Meisies Hoër (Affies) van Pretoria, asook die buurskool, Rob Ferreira van Witrivier, wat gesorg het dat NHS se atlete tot die uiterste beproef word.
Dit was ook ‘n voorreg om die spanne van Middelburg en Ermelo hier te verwelkom.
Statistiekgewys was Kryn Romijn van Ermelo (seuns o. 17) en Timeke Coetzee van Meisies Hoër (dogters o. 19) sekerlik die grootste uitblinkers. Kryn het die
400 m vir seuns o. 17 in ‘n puik tyd van 48,95 sek genael, terwyl die jonge Timeke die oë laat rek het toe sy ‘n volle 6,13 m in die verspringput geland het.
Vir NHS het veral Jordan Pretorius (seuns o. 17) en Zané Nel (dogers o. 16) die vlag hoog laat wapper. Na sy pragtige 6,9 m in verspring tydens die interhuis het Jordan dié prestasie met ‘n stewige 6,71 m (817 punte) opgevolg.
Zané het die jaar begin waar sy 2023 geëindig het, deur in beide haar twee items meer as 800 punte te verwerf: gewigstoot – 13,06 m (872); en skyfwerp – 34,81 m (832).
Tumiso Letsoalo van Rob Ferreira het met ‘n skitterende tyd van 14,74 die seuns o. 17 se 110 m-hekkies gewen en 814 ASA-punte losgeslaan.
Nog ‘n Robbies-atleet, Cloe Mabitla, het eerste plek in die dogters o. 19-skyfwerp met 31,9 m (743) verower.




































































































































