Nellies speel in kwarteind van Beeldtrofee
Die Beeldtrofee vir Makro-skole se kwarteindstryd vind dié naweek op Hoërskool Nelspruit se sportgronde plaas.
Die Witrenosters speel Saterdag teen Monument
wat agt Cravenweek-spelers in hulle geledere het.
Die Nelspruiters se eerste- en o/16-spanne het nog nie voorheen teen Monnas kragte gemeet nie. Die o/15’s het reeds in vanjaar se NuPower-reeks eindstryd én in verlede jaar se Beeld-eindstryd teen die besoekers verloor.
“Monnas speel nog al die jare goeie rugby en met die dat hulle so baie Cravenweek-spelers het, beklemtoon dit die kwaliteit van spelers waarmee hulle opdaag. Al hul rugbyspanne het eerste in die Leeus-liga geëindig,” vertel die eerstespan-afrigter van Nellies, Gerhard Holtzhausen.
Die uitspeelwedstryde vir die gesogte kompetisie is lankal vergete en daar is geen maklike wedstryde teen maklike skole oor nie. “Die span wat Saterdag met die beste dissipline op die veld uitdraf en dié een wat sy punte vat as hy kan, gaan die wenner wees,” het Holtzhausen gesê.
“Die prioriteitslys van dié naweek se wedstryde bepaal of die halfeindstryd op
17 Augustus, weg of tuis gespeel sal wees. Die Pumas lê tans tweede en die Valke
eerste op dié lys. Die kwarteindstryd tussen Hoërskool Garsfontein en
Hoërskool Dr EG Jansen vind ook die naweek plaas.”
Nellies se o/14’s het verlede naweek die voorhoofstryd van die Absa Curriebeker-reeks op Mbombela gespeel waar hulle teen Garsfontein vasgeval het.
Hoërskool Kemptonpark in Johannesburg is die verdedigende kampioene.