Ricus deel van “Contender Squad”
Ricus van der Hoven is deel van die "Contender Squad" wat ‘n nie-amptelike paneel by SARRA (South African Rugby Referee Association) vorm.

Dit bestaan uit 27 skeidsregters wat moontlik eendag op die amptelike nasionale paneel van SARRA kan kom. Dié paneel, bestaan uit hul top 30 skeidsregters, waarvan Craig Joubert, Jonathan Kaplan, en Jaco Peyper deelmaak. “Dit is my vierde jaar op die nie-amptelike paneel. Ek is laasjaar as ‘n reserwe vir die nasionale paneel aangewys. Ek is tans nog ‘n reserwe. Ek kyk met groot afwagting na hierdie jaar, aangesien ek deur goeie prestasies op die veld aan die deur wil klop om einde van die jaar my hand op te steek vir bevordering na die nasionale paneel.”
Hy stap al ‘n lang pad en hierdie is sy agtste jaar as skeidsregter. Hy het
by die Pumas aangesluit en as nuweling sy merk gemaak. “Dit is nie altyd ‘n
maklike pad nie, want ons kry baie kritiek, aanmerkings, en soms ‘n paar
dreigemente. Ek was bevoorreg om baie spesiale wedstryde in ons eie unie soos
die Mpumalanga-finale te blaas. Ek het die Beeld-eindstryd 2012 vir
makro-skole geblaas, asook die Varsity Cup Young Guns-eindstryd. Daarby het ek
al by gebeure soos die Grant Khomo-week en by verskeie Akademie-weke
geblaas.”
Om een van Suid-Afrika se top-skeidsregters te wees, verg ‘n gevoel
vir die spel. Jy moet die spel verstaan. Jy moet fiks wees, en die reëls ken.
“Om vir 80 minute te konsentreer kan uitputtend wees. Die kuns is om dan te weet hoe om daardie reëls wat jy ken toe te pas sodat dit die wedstryd kan lei. Mense moet verstaan – reëls is gemaak om die spel meer vloeiend te maak. Dit is waar die kuns van skeidsregterskap inkom. Enige ou kan met ‘n fluitjie en ‘n reëlboek op die veld draf, maar geensins sal daardie wedstryd aanskoulik of veilig wees nie. Deur wedstryd op wedstryd te blaas, bou mens ervaring op wat jou baie
help.”
Daar is ’n tekort aan ideale skeidsregters in Suid-Afrika en bly ‘n
tameletjie. “Sou jy ‘n skeidsregter vir elke wedstryd van elke unie in SA
benodig, is 8 000 nodig. Ons is nie eers 3 000 nie. Dit hang af van jou
beskikbaarheid per naweek en die hoeveelheid wedstryde wat daar op ‘n naweek is, maar ek sal op gemiddeld twee tot drie wedstryde per Saterdag blaas.”