Nellies-atletiekseisoen lyk tops
As Woensdag 11 September se mini-byeenkoms enigsins 'n barometer sou wees van wat in die nuwe seisoen van NHS se atletiektalent verwag kan word, kan die lippe solank afgelek word - daar is vanuit die staanspoor blink vertonings gelewer!

Heel bo-aan die lys van uitblinkers, moet die naam van Stefan
van der Bank (nog in gr.8) uitgesonder word. Sy wengooi van 62,61m in spiesgooi,
seuns 15, is werklik van nasionale gehalte en sou in 2013 by die SA
Skole-kampioenskappe, die silwermedalje verower het (net-net na ‘n ander Nellie,
Werner Bouwer, wat vanjaar se nasionale kampioen was).
Die 14-jarige De
Villiers Basson het geskitter toe hy die 100m (seuns 15) in ‘n baie goeie 11.62
sek. afgeblits het. Hy het ook in die 300m onder sy teenstanders uitgenael om in
‘n baie goeie 37.70 sek. te wen. Franco Pedro (s.19) het die kort naelloop in
11.05 sek. afgeblits. Onder die meisies, was Christelle de Jager (13.00 sek.) en
Nerina Visser (ook nog onder 14) met haar 13.09 sek. die vinnigste.
Eduan
Engelbrecht se 35.81 sek. was die beste 300m-tyd deur ‘n seun.
In ‘n baie
opwindende 800m (seuns 17) het Gronighan Grobler net-net nie daarin geslaag om
deur die 2min.-grens te breek nie. Sy wentyd van 2:00.12 is egter puik vir ‘n
eerste wedloop van die seisoen! Wandla Nkosi (2:02.94), Justin Smit (2:05.20) en
Dewald Bothma (2:06.00) gaan gewis ook nog hul stemme dik maak vorentoe. Madri
Wiid lyk ook slaggereed vir groot dinge. Sy het die 800m (m.19) in 2:25.59 en
ook die 2000m (7:05.31) ingepalm. In laasgenoemde item moes sy egter enduit veg
om Anri Joubert (7:05.56) te troef.
Willie Vos is vir seker ‘n naam om te
onthou! Sy tyd van 14.98 sek. in die 100m hekkies (s.15) dui op groot dinge
vorentoe – so ook Ruan Groenewald wat ‘n ewe indrukwekkende 15.00 sek.
aangeteken het.
In uitgelese geselskap, wat die internasionale atleet,
Folavio Sihohle, ingesluit het, het die 15-jarige Wandla Nkosi die 2000m in
6:06.00 afgedraf. Sehohle, wat vanjaar vir Mosambiek deelgeneem het en deur mnr.
Charl Naude afgerig word, het die wedloop in ‘n uitstekende tyd van 5:19.00
gewen.
Wat die velditems betref, het die gewigstoot vir seuns 15, vir
vuurwerke gesorg. Vier van NHS se gr.8-seuns het mekaar deeglik opgekeil – en
almal van hulle het die 4kg-gewig verder as 13m laat grondvat! Stefan vd Bank
(14,38m), Naas Mare (13,99m), Wium Barnard (13,56m) en Matthew Brennan (13,48m)
het onteenseglik gewys dat NHS ook in gewigstoot, puik juniors het wat nog groot
dinge gaan vermag. Cor-Mari Oliver wen die m.17-item met ‘n goeie 12,30m, met
Monique McDonald (11,92m) en Alisia vd Merwe (11,88m) in die volgende posisies.
Monique het ook die skyfwerp met ‘n gooi van 28,43m gewen.
Marnus vd
Merwe het in sy eerste byeenkoms as onder 17-atleet, die 1,5 kg – skyf op 44,67m
laat grondvat. en daarmee met Barberton se Raymond Smit (38,65m) en Nellies se
Francois Esselen (37,06m) afgereken.
Menanto de Beer (30,80m) en Carina
Mollentze (28,88m) het met belowende afstande in spiesgooi begin. Onder die
seuns wat die spies laat sing het, was Peter Gildenhuys (49,50m – s.19),
Christiaan Bezuidenhout (47,62m – s.17) en Francois Esselen (47,44m – s.17).
Marius Slabbert (nog in gr.8) het die toeskouers laat regop sit, toe hy
op ‘n hoogte van 1,75m oor die dwarslat geseil het. Stefan vd Bank het sy
veelsydigheid onderstreep, deur op ‘n baie goeie 1,65m te slaag.
Hannes
Aucamp se 6,23m in die verspring, s.17 was die beste van die dag. Hy het sy
eerste 100m van die seisoen, in 11.30 sek. voltooi. ‘n Interessante toevoeging
tot die program, was hamergooi vir meisies 17, waar Alisia vd Merwe (42,40m) en
Monique McDonald (36,35m) stewig begin het met hul voorbereidings om Mpumalanga
volgende jaar in hierdie item te verteenwoordig.
Nog ‘n paar goeie
vertonings:
Michael Soderlund (s.17) : verspring – 5,91m
Rischa Blom
(m.17): driesprong – 10,02m
Marika Nieuwoudt (m.15): gewigstoot –
9,96m
Miranda Mans (m.19): 800m – 2:31.90
Desire van Staden (m.15): 800m –
2:33.71
Mia Erasmus (m.15): 800m – 2:34.00
Anri Joubert (m.17): 800m –
2:31.31
Eduan Engelbrecht (s.17): 100m – 11.37 sek.
