School sportSport

Skool se A-span gaan groot teen skole in Gauteng

Hoërskool Nelspruit se top-atlete kry finale afronding in Ruimsig vir die twee groot byeenkomste wat wag.

Hoërskool Nelspruit se A-atletiekspan het verlede Vrydag ‘n middag/aand-byeenkoms in die Ruimsig-stadion in Roodepoort bygewoon. Dié puik tartanbaan was die ideale afronding vir die twee groot byeenkomste wat wag: die Laeveld-interhoër by Bergvlam en ‘n week later die heel grote – die super-inter wat in Germiston sal plaasvind.

Normaalweg sou skole soos Monument, Randburg, Prestige College, Lichtenburg, Stellenberg (uit die verre Stellenbosch), Bekker en Zwartkops rooiligte vir NHS laat flikker het, maar die Nellies-masjien is vanjaar ‘n krag wat die teenstanders die een na die ander uit die pad vee.

Monument het weliswaar ‘n paar van sy top-atlete ‘n ruskansie gegee, maar Nelspruit se seuns was onkeerbaar en wen die byeenkoms gewen, 30 punte voor Monnas. Ook die meisies het die ander skole ore aangesit en ‘n baie goeie tweede plek behaal.

Talle atlete het na die byeenkoms breed geglimlag, want persoonlike beste resultate was aan die orde van die dag. Madri Wiid se twee nuwe Nellie-rekords van 4:51.47 in die 1 500m en 10:33.13 in die 3 000m was van die groot hoogtepunte. Carmen Cronje se

15,5sek. in die 100m hekkies o/16, het ook die skare laat regop sit.

Die seuns se segetog was besaai met uithaler-vertonings. Henco Pieters (o/15) het die 1kg-werpskyf op ‘n allemintige 50,42m laat grondvat.

Spanmaat Naas Marais het ook sy persoonlike beste na 42,97m verbeter. Naas se 14,63m in gewigstoot het ook die oog gevang.

Eduan Engelbrecht het ook geskitter deur die 100m met ‘n tyd van 11,14sek te wen. Sy tyd van 50,87sek in die 400m was ook ‘n baie goeie wedloop.

Om boonop in gr. 8 die 800m in onder 2:10 te voltooi, wil gedoen wees – en dis presies wat Rainer Spruyt vermag het. Sy tyd van 2:09.22 is eweneens ‘n seisoenbeste.

Juandre van Duyker het ook sterk gehardloop om die 400m hekkies o/17 in 57,09sek te wen. Nou wag die interhoër die komende naweek by Bergvlam en die Nellies beplan om groot te gaan.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button