Plaaslike held deur die Proteas opgeroep
Die Laeveld se plaaslike krieketheld, Jean Rossouw was wéér genader om as die 13de man vir die Proteas gedurende die eerste toets teen Australië uit te help, maar die Suid-Afrikaners het die naweek so swak gevaar dat 'n vyfde dag nie nodig was nie.

Nietemin is die 23-jarige eersdaags weer in Engeland in aksie. Hy het verlede jaar vir ses maande by die Engelse klub, Heath Coat in Devon gespeel, maar vanjaar stap hy vir Leek in Staffordshire op die veld. Dit sal die derde jaar wees wat hy toer.
Die blondekop speel tans vir die Easterns in Pretoria en is die vuur en vlam van die span. “Ek loop tans in die premierliga met die meeste paaltjies in die reeks voor en is ook vir die eerste-klas oefengroep gekies. Dit is die span net onder die Nashua Titans (die Titans is in twee bene verdeel – die Easterns en die Northens).
In 2011 het hy saam met die span Tanzanië toe getoer waar hulle teen Indië gespeel het. In sy af-seisoen het hy Hoërskool Nelspruit se eerste krieketspan afgerig, maar omdat hy so baie tussen Pretoria en Nelspruit moet reis, het hy nie meer tyd daarvoor nie.
“Ek mis dit vreeslik baie om af te rig, maar sal dit definitief weer voltyds
wil doen sodra ek terugkeer.”
Iets wat min mense van die talentvolle speler weet is dat hy op agt ‘n ongeluk gehad het. ‘n Klippie het hom in die oog getref en hy het 80% van sy sig in die oog verloor. “Ek het 20% sig in my linkeroog. Ek kan glad nie drie-dimensioneel sien nie.”
