School sportSport

Rugbyspan wen gesogte trofee

Die Mauritz Hansen-rugbyweek, beter bekend as die Hansieweek, het onlangs vir groot opwinding gesorg toe sowat 90 spanne op Mookgopong (Naboomspruit) toegesak het.

LYDENBURG – Die Mauritz Hansen-rugbyweek, beter bekend as die Hansieweek, het onlangs vir groot opwinding gesorg toe sowat 90 spanne op Mookgopong (Naboomspruit) toegesak het.

Dit is die 22ste keer wat dié gesogte toernooi plaasgevind het en Hoërskool Lydenburg se tande was behoorlik geslyp nadat die atletiekseisoen tot ‘n einde gekom het.

Dit is die grootste nie-provinsiale rugbyweek ter wêreld, verduidelik die sportorganiseerder van die skool, mnr. Otto Schulze, waar skole van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes meeding.

Lydenburg het nie teleurgestel nie en het agt van hul 12 wedstryde uit verskillende ouderdomsgroepe gewen.

Die o/15-span het egter vriend en vyand verras en is as algehele wenner van dié afdeling gekroon nadat hulle met ‘n 32-15 oorwinning geseëvier het en hul teenstaanders van Potchefstroom (Volkskool) stert tussen die bene huis toe gestuur het. Dit is die eerste keer in dié skool se bestaan dat ‘n span die gesogte trofee wen.

Nog ‘n besondere prestasie wat die skool te beurt geval het, is toe Jason Oosthuisen as die o/14-agterspeler en speler van die week aangewys is.

Die o/15-span bedank graag Elektro Diesel Steelpoort, Northlite, Thorncliff myn, Twee Riviere myn, Zizwe, Leeuvallei skrootmetaal, Maurice Bezant en Rodney van der Walt asook al die inwoners van Lydenburg wat al die spanne so gereeld met die blikskud en borge bystaan.

Lydenburg Hoërskool nooi almal uit om wintersportspanne hierdie Saterdag op hul tuisveld te kom ondersteun waar hul teen Ben Voster van Tzaneen te staan sal kom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button