Jong fietsryers se vaardighede verfyn
Gustav Klingbiel Natuurreservaat was die afgelope naweek ‘n miernes van bedrywigheid toe ongeveer 60 leerlinge van Hoërskool en Laerskool Lydenburg vir die eerste bergfietskamp in die skool se geskiedenis byeengekom het.
LYDENBURG – Gustav Klingbiel Natuurreservaat was die afgelope naweek ‘n miernes van bedrywigheid toe ongeveer 60 leerlinge van Hoërskool en Laerskool Lydenburg vir die eerste bergfietskamp in die skool se geskiedenis byeengekom het.
Verskeie kundiges op dié gebied het Vrydag en Saterdag leerlinge behoorlik uit hul gemaksone gehaal en die naweek is met ‘n uitdagende hindernisbaan waar hulle van ‘n groot trok af moes ry om hul ‘downhill’-vaardighede te bemeester, afgeskop.
Met kundiges soos Trent Sinclair en Ernest Coetzee het die vrees geleidelik verdwyn en het die jongelinge een vir een die taak vreesloos aangedurf. Volgens Sheena Clark, een van die betrokke ouers en organiseerders van die kursus, was die doel om fietsryers se vaardighede te bevorder en ook om spangees te kweek en ‘n gevoel van samehorigheid te bewerkstellig, veral ten voorbereiding van die Spur MTB Series wat die naweek afskop.
Dié reeks, wat ‘n nasionale platform skep om bergfietsresies onder die jeug te bevorder, bestaan uit vier wedrenne en is veral ‘n gewilde liga onder fietsryers van die hoërskool. Hoërskool Lydenburg het jaar na jaar dié gesogte reeks gedomineer en met die trofee huiswaars gekeer.
Verlede jaar moes hul egter toekyk hoe Uplands hulle onttroon. Volgens Clark is die skool uitgehonger om hul naam in ere te herstel en is dit ook die rede waarom die kursus juis nou aangebied is. Na ‘n leersame dag kon fietsryers egter ‘n blaaskans vat en luister na Arie Roos van Longtom Cycle & Sport wat die belangrikheid van beplanning van ‘n resies beklemtoon het.
Na ‘n heerlike ontbyt Saterdag was almal slaggereed vir die tweede dag en oorgehaal om Chante Loots se opwarmingstegnieke uit te toets. Volgende was Roos en Sinclair weer aan die beurt om “lap racin”’ en tegniese vaardighede te verduidelik.
Die plaaslike fietsryer, Lourens Beeslaar, het ook sý kundigheid kom deel en fietryers touwys gemaak oor hoe hulle te werk kan gaan om hul voorbereiding vir wedrenne te verbeter, terwyl Conrad Langenegger die belangrikheid van instandhouding van die fietse verduidelik het.
“Die kursus was ‘n reusesukses en ons glo dit was net die begin van ‘n jaarlikse instelling”, sê Clark. “Ek het dit baie geniet en terselfde tyd soveel nuwe dinge geleer. Die kos was ook veral lekker”, sê Blessing Moima van Hoërskool Lydenburg wat stadig maar seker in fietsry-kringe naammaak.
Die Spur MTB School Series vind op die volgende datums plaas:
31 Mei: Uplands College
21 Junie: Penryn College
16 Augustus: Curro Skool
13 September (Provinsiaal): Mankele
3-5 Oktober (Nasionaal): Bekker Skool.
Die volgende betrokkenes word graag bedank
Ronel du Toit
Gerrit-Jan Dorfling
Morne Lindeque
Dave en Shaana Clark
Ronel en Johan du Toit
Yvette en Sean Schulz
Chris en Lucille Botha
Ada Verster
Zizwe
Riaan van Zijl
Trent Sinclair
Arie Roos
Ernest Coetzee
Conrad Langenegger
Lourens Beeslaar
Chante Loots
Cornell Ackermann
Maxi’s
Stoffberg Race organisers
Lontom Cycle
PVM
4 U Stationary
