School sportSport

NHS se spanne staan hul man teen Middelburg

Die Nellies het Saterdag 31 Mei 'n baie goeie dag op Middelburg beleef, toe hulle in 9 van die 10 rugbywedstryde, koning gekraai het.

In totaal teken die Laevelders 412 punte aan, terwyl Middelburg met 66 punte tevrede moes wees.

Dit beteken ‘n gemiddelde telling van 41 – 7, wat gewis ‘n puik prestasie is ! Dit was egter ironies dat, al het die Nellies die rugby deur die dag oorheers, dit Middelburg was wat die kop hoog gelig het, nadat sy eerstespan ‘n naelskraapse sege van 11 – 10 teen NHS behaal het.  Dit was byna soos om al die items by ‘n atletiekbyeenkoms te wen, maar die aflos vir seuns 19 te verloor !

 

Dit moet moeilik vir ‘n afrigter wees om, te midde van kritiese beserings aan sleutelspelers, week na week nuwe kombinasies saam te stel en spelpatrone in te oefen. NHS se eerstes beskik vanjaar oor hope talent, maar die beseringspook wou maar net nie wyk nie. Nogtans het die span nooit tou opgegooi nie, maar enduit hul harte uitgespeel.

 

Wat die ander A-spanne betref, het die 0/14 A’s weer gewys dat hulle meer as net ‘n gedugte span is. Na hul 36 – 0 sege die vorige week teen HTS Middelburg, was dit hierdie keer HTS se buurskool wat ‘n loesing toegedien is. Die eindtelling was 34 – 7. Daar word verwag dat hierdie spannetjie van NHS nog ver in komende ligas gaan vaar. Die 0/14 B’s was heeltemal te sterk vir Middelburg, soos die telling van 61 – 0 duidelik toon. NHS se 0/15’s het groter teenstand ondervind, maar steeds goeie oorwinnings van 22 – 12 (0/15 A) en 24 – 12 (0/15 B) behaal. Die 0/16 A-span het sedert hul nederlaag teen HTS Witbank, van krag tot krag gegaan. Saterdag se weghol-telling van 81 – 12, het die manne se potensiaal sonder twyfel onderstreep. Ook 0/16 B (35 – 0) het die Middies swaar laat leef.

 

Waar die ope-spanne oor die algemeen die vorige naweek klippe teen HTS gekou het, was NHS , wat die vierdes (43 – 5), derdes (31 – 0) en tweedes (71 – 7) betref, Middelburg se tier.

 

Middelburg se bekende hokkie-krag , het Nelspruit se meisies deeglik beproef. Uit die 8 wedstryde, kon NHS net 3 wen, met Middelburg wat in totaal 13 doele (teenoor die Nellies se 9) aangeteken het. Vir die besoekers het die 0/14 B’s (4 – 2), 0/16 B’s (2 – 1) en tweedes (1 – 0) daarin geslaag om as oorwinnaars van die veld te stap. Middelburg wen die 0/14 A-wedstryd ( 1 – 0), en ook daarna 0/15 A (1 – 0), 0/15 B (2 – 0), 0/16 A (4 – 1) en eerstes (2 – 1).

 

NHS is trots op sy seuns en dogters wat met begeesterde en opwindende spel, hul skool se naam hooghou !

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button