Nelspruit hak in doodsnikke knoop teen Laeveld deur
In 'n spannende uitspeelwedstryd op Hoërskool Nelspruit se rugbyvelde verlede week, het Laerskool Nelspruit se eerste span daarin geslaag om in die doodsnikke van die kragmeting teen Laerskool Laeveld die knoop deur te hak.

Tydens die ligabepaling het die Laevelders gewen, maar weens die punteverskil tydens die liga, moes hulle in ‘n uitspeelwedstryd meeding om vir die Mpumalanga-semifinale vir groter skole te kwalifiseer.
Dit vind môre in Witbank plaas.Laeveld het eerste bloed geruik toe die middelveld-spelskepper, Anton van Eijk (kaptein) ‘n skitterende drie gedruk het.
Nelspruit het hard teruggeveg, maar die wedstryd het vir ‘n tyd lank wipplank gery en die spanne was op 17-elk vasgepen.
Die Nellies se ster-agtsteman, Chyle van Zyl, kon toe daarin slaag om die verdediging van die Laevelders met ‘n telling van 22-17 te breek.
Dit beteken dat drie van hul spanne na die uitspeelrondes deurgedring het.
Die eerste span sal teen Laerskool Middelburg kragte meet, die o/11 A’s teen Laerskool Klipfontein van Witbank en die o/9’s pak JJ van der Merwe van Ermelo aan.
Ander Laeveld-skole wat ook na die uitspele deurgedring het, is Laerskool Witrivier se o/9-span, kleiner skole – Numbi o/9’s en o/11’s, Malalane o/11’s en o/13’s, Lydenburg o/10’s en o/13’s, Nelspruit Primary se o/10’s, Laerskool Bergland se o/11’s, en Komatipoort se o/13’s.
