School sportSport

Krieketseisoen skop af met Mozzieweek

Vir talle hoërskole van oraloor het die krieketseisoen reeds in die laaste week van die wintervakansie begin toe die vierde Mozzieweek in die Laeveld gehou is. 

Die toernooi het gedugte opponente van so ver as die Vrystaat (Hoërskool Voortrekker van Bethlehem), Noordwes (Hoërskool Rustenburg en Potchefstroom Gimnasium se eerste spanne en Hoër Volkskool Potchefstroom se o/15’s) en Gauteng (hoërskole Menlopark, Garsfontein en Wonderboom se eerste spanne) gelok. Vanuit plaaslike geledere het spanne van Hoërskool Nelspruit (NHS), Penryn College en Uplands ook vir die krieketfees aangemeld. 

Verrigtinge het Woensdag met T20-krieket geopen en die volgende drie dae is aan 50- en 45-boulbeurtwedstryde gewy. 

‘n Jong Laevelder wat by dié toernooi naam gemaak het, is Jared Bone van Penryn. Hy is nog op laerskool en onder 12 maar het vir die o/15’s geskitter deur 10 paaltjies te neem in die span se eerste twee wedstryde. Teen NHS het hy drie paaltjies in ses beurte geneem en ses lopies afgestaan. Teen Uplands het hy ses paaltjies gevat en net 10 lopies afgestaan.

NHS se o/15’s het gemendge welslae behaal. Hulle het Vereeniging Gimnasium met vyf paaltjies en Voortrekker met 
23 lopies geklop. Hulle het egter hul wedstryd teen Hoër Volkskool met 29 lopies en hul T20-wedstryd teen Penryn met ‘n paaltjie verloor.

Die skool se eerste span het wel die week op ‘n hoë noot begin deur Garsfontein in ‘n T20-wedstryd met 10 paaltjies te klop. Schalk Sutherland het 63 n.u.n. en Bernard Vorster 43 n.u.n. aangeteken. Simon Geldenhuys is as die beste bouler van die dag aangewys nadat hy twee paaltjies vir 23 lopies geneem het. 

In hul eerste 50-boulbeurt-wedstryd het die eerste span ‘n oorwinning van ‘n paaltjie in ‘n naelbytwedstryd teen Menlopark behaal. Vorster se 45 lopies en Stephen Kriel se 42 lopies het hulle tot ‘n oorwinning gelei. 

Vorster het ook ‘n goeie boulvertoning gelewer deur drie paaltjies vir 32 lopies te neem terwyl Armand Labuschagne twee paaltjies vir 35 lopies laat kantel het.

Nellies het ook vir Wonderboom met vyf paaltjies geklop danksy Vorster se skitterende 46 n.u.n. Sutherland het 41 gemaak terwyl Ruben de Lange en Geldenhuys as die beste boulers aangewys is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button