Uiteindelik! Na 25 jaar kom die beker huis toe
Na 25 jaar sal die destydse direkteurs-trofee wat deesdae as die Beeld-trofee bekendstaan, Saterdag op Hoërskool Nelspruit se sportgronde spog.

Dit nadat die Rhinos die Wit Bulle van Monument met 24-19 getroef het.
Die huidige kampioene vir makroskole, EG Jansen is in ‘n naelbytstryd op hul agterplaas deur Garsfontein 32-29 verslaan.
Monnas het in die laaste 10 minute van die halfeindtryd hard probeer om deur die besoekers se muur te breek, maar na drie probeerslae moed opgegee en só is hul glasie beklink.
Die Rhinos het reeds in die eerste drie minute met ‘n drie deur Renoux de Beer hul stem dik gemaak. Die losskakel, Wessel Muller het nie die drie verdoel nie, maar ‘n paar minute daarna ‘n gelukstrafskop oorgeklits.
Die Bulle se Ashley Carr het sy span se eerste punte op die telbord aangeteken met ‘n skitterende drie onder die pale en Wikus van Biljon het verdoel. Juan Lemmer het nog ‘n vyfpunter aangeteken en vir die eerste keer na 23 minute het die besoekers met 14-11 voorgeloop.
Wynand Visser antwoord toe met ‘n drie, maar Muller het weer die skop verbrou. Teen rustyd het Nellies met 16-14 voorgeloop.
Wihan Steyn duik daarna na amper meer as 10 fases oor die lyn vir nóg vyf punte. Nellies het die tweede helfte oorheers wat gebiedsvoordeel aanbetref het. Monument se Brandon Justin het in die 56ste minuut sy span se laaste punte aangeteken.
Muller het 12 belangrike punte vir sy span gekos en sal met ‘n opgewarmde skopskoen na die eindstryd moet opdaag. Saterdag speel die Rhinos vir die vyfde keer in die eindstryd (hulle het die beker in 1972 en 1975 gedeel). Die hoofwedstryd vind om 12:40 plaas.
Die Baby Rhinos (o/14’s) het teen Monnas se huursoldate 29-0 vasgeloop.
Nellies se Rhinos doen dit toe weer
