School sportSport

Nellies domineer met kolf en bal op die veld

Die veelsydige Parnell het ook Nellies se kolfbeurt geopen en in 'n japtrap 20 lopies gemoker wat drie grenshoue en twee sesse ingesluit het. Dit was gepas dat hy die wenlopies geslaan het.

Laerskool Nelspruit se o/13-krieketspan was gans te sterk vir Nelspruit Primary se o/13’s vir wie hulle Donderdag 14 Augustus met 10 paaltjies kafgedraf het.

Die maklike oorwinning was te danke aan Nelspruit se sterk en akkurate boul-aanval wat Primary nooit die kans gegun het om enigsins hond haaraf te maak nie.

Primary het ook die kat aan die stert beet gehad met talle spelers wat doellose houe gespeel en hul paaltjie weggegooi het.

Die speler van die wedstryd, Tristan Parnell het vier paaltjies vir slegs 10 lopies met sy venynige draaibalwerk opgeraap.

Parnell het sy eerste twee slagoffers pawiljoen toe gestuur, toe albei hulle met die draai misgis en skoongeboul is. Primary het die volgende twee paaltjies aan Nellies persent gegee deur swak houkeuses en hul onvermoë om die bal met ‘n reguit kolf te speel. Hopeloos te veel spelers wou die bal net moker, eerder as om tyd op die kolfblad deur te bring.

Primary se kolwers het een vir een soos domino’s geval, met niemand wat vir openingskolwer Njabulo Temilton ondersteun het nie. Hy het op 14 nie uit nie geëindig met sy span wat slegs 46 lopies kon aanteken.

Twee spelers is ook nutteloos uitgehardloop wat Primary se taak al hoe meer desperaat gemaak het.

Liam Gunter en Jacques Vosloo het ook goed tot Primary se lae totaal bygedra met hul uitstekende boulwerk. Vosloo het onder andere ‘n uitstaande vangkans met ‘n wafferse duikslag benut.

Die veelsydige Parnell het ook Nellies se kolfbeurt geopen en in ‘n japtrap 20 lopies gemoker wat drie grenshoue en twee sesse ingesluit het. Dit was gepas dat hy die wenlopies geslaan het.

Primary se swak kolfwerk het na hul boul-aanval en veldwerk toe oorgespoel toe hulle twee vangkanse teen Parnell verbrou het. Gelukkiger kan ‘n krieketspeler nie op een dag wees nie!

Nellies sal nou op hierdie goeie begin in die seisoen wil voortbou, terwyl Primary van die vertoning sal moet vergeet en aan alle fasette van hul spel sal moet werk indien hulle die wa deur die drif wil trek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button