Vlammies deur na rugby-finaal in Alberton
Twee van die skool se spanne dring deur na die finale vir die Beeld-trofee Saterdag.

Twee van Hoërskool Bergvlam se rugbyspanne sal eerskomende naweek in die Beeld-trofee se finale speel. Die o/16’s sal teeb Hoërskool Roodepoort uitspeel vir die titel en die o/14’s speel teen Hoërskool Parys.
Albei spanne het Saterdag tuis die span van Queens High School van Johannesburg in die halfeindronde oorrompel, om deur te dring na die eindstryd vir mediumskole.
Bergvlam se o/16’s het aanvanklik die wedstryd oorheers, maar Queens het baie druk op hulle gesit en die besoekers was ongelukkig om so ver as 41-24 te verloor. Die Vlammies se ses drieë was egter te veel vir hulle.
Bergvlam het binne minute van die afskop ‘n strafskop gekry om eerste op die telbord te wees. Dis gevolg deur twee drieë voor hulle tydelik uitgerafel het. Queens het met die bal, druk op hulle verdediging volgehou voor hulle sélf ‘n welverdiende drie kon aanteken. Die Vlammies kon daarin slaag om dit met hul eie drie te beantwoord om teen rustyd met 24-12 voor te loop.
Na halftyd het Bergvlam nog ‘n drie aangeteken en Queens het onmiddellik dieselfde gedoen. Hulle kon besit vir lank behou voor die Vlammies deurgebreek het. Op hulle beurt het Queens vir die finale drie van die wedstryd deurgebreek om die telbord teen die einde op 41-24 te staan te bring.
Vir die Vlammies het die o/k Tristan Louw drie drieë gedruk met Raymund Scherman, Ndumiso Masilela en Pieter Kloppers wat elkeen een onder die pale kon plant.
Die o/14’s het twee drieë gedruk om met 15-0 te wen en ook na die eindstryd eerskomende Saterdag deur te dring.
Sien nog foto’s hier.
