Al wat jy sien is die Wit Rhino-masjien!
Die Laeveld was Saterdag oorstelp van vreugde nadat die Rhinos vir die eerste keer die Beeld-trofee vir makroskole omhoog gehou het.

Toe die eindfluitjie blaas, het ‘n wit golf oor die veld gerol soos medeleerders, oudskoliere en ouers oor die veld gehardloop het om hul helde geluk te wens.
Die Rhinos het die senutergende stryd net-net met 20-19 gewen nadat Garsfontein se losskakel, JP Wegner ‘n doelskop verbrou het nadat die heelagter, Shakeel Fredericks in die 71ste minuut ‘n troosdrie gedruk het. Gróót uitblinkers was Nico van Rooyen en die losskakel Wessel Muller wat ‘n paar goue oomblikke gehad het. Die vaste vyf verdien ‘n pluimpie vir hul vertoning met hul skrumwerk asook ‘n paar goeie rolmaalbewegings.
Dinge kon heel anders uitgedraai het as Garsies se besluitneming beter was. Die losskakel, Wegner het met die eerste tikkie die bal direk uitgeskop, maar hy het sy fout deur ‘n drie in die eerste vier minute reggestel. Die skeidsegter, Gavin Wessels het die Bere se kaptein, Raun Ackermann vir gevaarlike spel, vir 10 minute koelkas toe gestuur.
NHS het dié voordeel ten volle benut, en Muller het kort voor die einde van die eerste 35 minute oor die doellyn geduik. Teen rustyd was dit 10-7 in die guns van Nelspruit.
Angs het op Garsies toegesak toe die tuisspan se no.11, Lukas de Kock ‘n vyfpunter aangeteken het. Kort daarna het die Pretorianers se Ruan geantwoord, óók met ‘n drie. Na 45 minute het Nellies weer met net drie punte voorgeloop.
Morné Pretorius, die skrumskakel van Nellies, is sewe minute voor die einde, ook van die veld afgestuur, maar sy span het met die terugslag aanhou baklei. Wessel het met ‘n uitstekende strafskop die vlaggies laat wapper.
Mbombela is in ekstase nou dat die beker in die stad staan. Die ysterslot, Riaan le Roux is as die speler van die wedstryd aangewys.
Vir meer fotos:
https://www.citizen.co.za/lowvelder/category/galleries/
https://www.citizen.co.za/lowvelder/215845/rhinos-en-bere-bult-spiere-vir-eindstryd/
Het jy dit gemis? Kyk hierna:
