Gimnas is gemaak vir die ringe
Trevor speel ook rugby en krieket, maar as hy moet kies sal dit gimnastiek wees - dis tog waarin hy die beste presteer.

Trevor de Wet (14) is nie bang vir hoogtes nie. Hoe kan hy wees met die gimnastiektoertjies wat hy uitvoer? Dié gr. 8-leerder van Hoërskool Bergvlam het tydens die onlangse skoolvakansie aan die nasionale kampioenskappe in Kaapstad deelgeneem waar hy algeheel sesde geëindig het en ‘n silwermedalje in ringe verwerf het.
Hy neem nog maar net die afgelope drie jaar aan die sport deel, en oefen onder Maré Putter by Nelspruit Gimnastiek Akademie. Nietemin het hy twee jaar gelede by die SA’s met drie medaljes weggestap – met goud vir, natuurlik, ringe – sy gunsteling.
Ringe word gewoonlik net deur manlike gimnaste beoefen omdat dit baie krag in die bolyf verg. Vir die SA’s hierdie jaar moes Trevor aan ses items deelneem: buiten ringe sluit dit spronge, die beuelperd, brug en vloer.Laasgenoemde is die moeilikste vir hom.
“Net voor ek die vloer moes doen by die SA’s het my kop so seer geraak en toe raak alles so blurry. Voor byeenkomste stres ek nie regtig nie, maar net voor ek iets moet doen begin ek soms twyfel en my hande bewe. Dan speel ek ‘n video in my kop van hoe ek dit al gedoen het en onthou hoeveel keer ek dit reeds reggekry het.”
Pa Ferdi sê Trevor het van kleins af soos ‘n wafferse apie aan alles gehang en geswaai. Hy doen dit weer om vir foto’s te poseer: hy sit kalk aan sy hande en klim op ‘n beuelperd om die ringe wat sowat drie meter van die grond af is, by te kom. Om en om tol hy, en stop af en toe in die middel om vir die kamera te kyk.
Ferdi voeg by dat die sport nie veel ondersteuning geniet nie en as dit nie vir Maré se passie was nie, sou kinders in Mbombela nie die geleentheid gehad het om gimnastiek te doen nie.
Dis ‘n jammerte omdat dit uitstekende oefening is vir kinders: dit maak die liggaam sterk en soepel en is uitstekend vir balans, koördinasie en dissipline.
Trevor speel ook rugby en krieket, maar as hy moet kies sal dit gimnastiek wees – dis tog waarin hy die beste presteer. Hy beoog self om eendag self af te rig. Navrae: Maré Putter by 083-229-1575.
Lees meer oor van Bergvlam se ander presteerders hier en hier.

