Elande en Koedoes laat die rekords spat
Laerskool Numbi se atlete het verlede week die atletiekseisoen afgeskop deur 'n paar rekords te breek tydens die skool se interhuisbyeenkoms.
Ten spyte van die bloedige son en gesiggies wat al hoe rooier gebrand het, het die atlete van Laerskool Numbi verlede Vrydag die veld stormgeloop vir die skool se jaarlikse interhuisbyeenkoms.
Leerlinge is in een van twee huisspanne, die Elande en die Koedoes, ingedeel en die kompetisie was straf. Daar was verskeie baan- en velditems soos hoogspring, hekkies, verspring, krieket- en medisynebal-gooi, asook langafstande vir die langasems en kortafstande vir die blitsvinniges. Die Elande en Koedoes op die paviljoen het voortdurend hul maats op die veld aangemoedig deur atletiekliedjies en -krete te sing.
Talle leerlinge het gedurende die byeenkoms rekords verbeter. Lindo Mokone, ‘n o/12-meisie het ‘n nuwe rekord in die 150 meter-wedloop met ‘n tyd van 21,66 sekondes opgestel, terwyl Themba Mathebula in die 100 meter stof in die ander o/11-seuns se oë geskop het en ‘n nuwe rekord van 14,72 sekondes behaal het. In die gewigstoot vir o/11-seuns het Mbongeni Mathebula ‘n rekord van 9,65 meter behaal.
Atlete berei tans voor vir verskeie vriendskaplike byeenkomste en sien uit na die interlaer wat op 20 Februarie by Laerskool Numbi aangebied word.
