Atlete trek saam voor interhoër
Lowveld High se atlete het veral uitgeblink tydens die jaarlikse Laeveld Prestige Byeenkoms verlede Saterdag.

Atlete van plaaslike skole is vuur en vlam om môre vir die volgende ronde op pad na die nasionale atletiekkampioenskappe te kwalifiseer. Saterdag is dit weer tyd vir die interhoër en ter voorbereiding daarvan is die jaarlikse Laeveld Prestige Byeenkoms verlede Saterdag by Hoërskool Bergvlam aangebied.
Lowveld High, hoërskole Rob Ferreira, Barberton, Sybrand van Niekerk, Frans du Toit van Phalaborwa en Merensky van Tzaneen het teen die gashere meegeding om vinniger, hoër en verder as hul teenstanders te beweeg.
Ongelukkig is die program deur swaar donderweer en stormreën onderbreek wat die veld te nat gemaak het om voort te gaan. Die atlete wat wel aan hul items kon deelneem het uiteraard die medaljes ingepalm.
‘n Hele paar rekords het ook gespat. Lowveld High se atlete het veral uitgeblink. Dié skool se toppresteerder was Norbert Ponisammy. Hy het ‘n nuwe byeenkomsrekord van 22,18 sekondes in die 200 meter vir seuns o/17 opgestel. Hierdie prestasie het hom as die beste senior baanatleet onderskei en ook aan hom die trofee vir die beste prestasie van die dag besorg.
Robin Maile het ‘n nuwe byeenkomsrekord van 21,96 sekondes in die 200 meter vir seuns o/19 opgestel en Mandisa Sigudla het ‘n nuwe byeenkomsrekord van 10,98 meter in die gewigstoot vir dogters o/17 opgestel. Algeheel op die dag is Nhlanhla Tshabalala (o/15) as beste junior seunsveldatleet vir sy prestasie in hoogspring aangewys.
Hoërskool Merensky het ook vir Barberton bedank omdat hulle hul beurt om die byeenkoms volgende jaar aan te bied aan eersgenoemde afgestaan het, omdat dié ‘n groot bestaansjaar vier.
Die interhoëraksie skop om 06:00 by Hoërskool Nelspruit af. Hou ons webwerf dop vir al die aksie en uitslae.
Sien al die aksie hier.
