FeaturesInterhigh 2016: NewsInterhigh newsLifestyleSchool sportSport

Spangees net so sterk na 50 jaar

Hoërskool Nelspruit het vanjaar baie sukses behaal toe die skool die interhoër aangebied het.

‘n Hoogtepunt op die Laeveldse skolekalender was die geskiedkundige skouspel wat hom Saterdag by Hoërskool Nelspruit afgespeel het. Interhoër 2015 sal sekerlik nog vir lank in die geheue gekoester word, veral vir leerders van die gasheerskool.

NHS het dit vermag om vir die 50ste agtereenvolgende jaar die spantrofee te verower. Die Nellies se seuns- en dogterspanne het deurgaans voorgeloop en kon saam 1 648 punte op die baan en veld inpalm. Dit het hulle die eerste plek besorg teenoor Hoërskool Rob Ferreira se 1 185 punte.

Boonop kon hulle vir ‘n rekord vyfde keer die gesogte sangbeker omhoog hou.

Die toppresteerders was Stefan Smit en Ilke Joubert. Smit het 1 092 punte op die Absa-punteleer verwerf in skyfwerp vir seuns o/15 met ‘n afstand van 52,99 meter. Smit was ook die beste korthekkie-atleet met ‘n tyd van 14,10 sekondes in die 100-meterhekkies. Joubert kon 929 punte verwerf in dogters o/16 gewigstoot met ‘n afstand van 12,91 meter.

Nerina Visser (o/16) is as die senior victrix ludorm aangewys. Sy het eerste plekke in 100-meterhekkies, 400-meterhekkies, 100-meternaelloop en 200-meternaelloop behaal. Sy was ook die beste dogtersatleet in onderskeidelik kort- en langhekkies met ‘n tyd van 15,88 sekondes in die 100 meter en 1:07,88 sekondes in die 400 meter.

Nicola Cronjé (o/14) is as die junior victrix ludorm aangwys. Sy was eerste in die 200 meter, 400 meter en 800 meter. Sy was ook die beste middelafstand-dogtersatleet met ‘n tyd van 2:27,15 in die 800 meter. De Villiers Basson (o/16) was die senior victor ludorm met eerste plekke in die 800 meter, 200 meter, 400 meter en ‘n derde plek in die 100 meter.

Die hoof, Dr Louis Swanepoel, het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat tot die sukses van die dag bygedra het. “Hoërskool Nelspruit kyk met opregte dankbaarheid terug na Interhoër 2015 en onthou ‘n pragtige dag van gesonde mededinging, hernuwing van vriendskapsbande en die bevestiging van ‘n interafhanklikheid tussen mense met gemeenskaplike doelwitte. Die heil, welsyn en geluk van ons kinders, is ‘n godgegewe taak waarmee al die vennote in opvoeding met groot omsigtigheid omgaan.

“Baie dankie vir almal se geesdriftige teenwoordigheid tydens die opwinding, die voorafbeplanning, die aanbied van die byeenkoms en ook die agterna-vreugde wat ons met vriende en ondersteuners kon deel. Die son het wel oor 21 Februarie 2015 gesak, maar in die geheue bly die talryke mooi herinneringe aan ‘n voortreflike dag voortleef. Leerders van deelnemende skole, julle was ware ambassadeurs op wie julle skole met reg baie trots kan wees.”

  • Sien nog foto’s hier

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button