Vlammies laat die swemwaters kook
Hulle swem soos visse, of is dit visse wat swem soos Elsabé Rautenbach en Thelise Saunders?
Hierdie twee leerders van Hoërskool Bergvlam het onlangs uitstekend gevaar tydens die SA Skole-swemkampioenskappe. Dit is in Desember in die Olimpiese swembad in Hillcrest, Pretoria aangebied.
Ongeveer 600 swemmers het aan dié gesogte nasionale geleentheid deelgeneem. Die skool het laat weet dat dié leerders se prestasies hulle laat brand van trots, selfs onder die water.
Die skool se swemmers het ook nie lyf weggesteek tydens die onlangse interhoër swem nie. Rautenbach het vier goue medaljies verower. Sauders is huis toe met ‘n goue medaljie sowel as twee silwer en een brons.
Duval Coetzer het ‘n silwer verower en Rachel Fernandes en JJ Peters het elk ‘n brons medalje los geswem. Die 0/16 dogter aflosspan het boonop in die 200 meter ook ‘n derde plek gekry.
- Lees meer oor Bergvlam se ander prestasies in sport hier.
