School sportSport

Spanne neem Rob se velde oor tydens rugbyweek

Met toks en waterbottels in die hand, het rugbyspelers van 18 verskillende skole van 27 tot 31 Maart die velde van Hoërskool Rob Ferreira oorgeneem.

Dit was die jaarlikse Danie Rossouw-rugbyweek en met 22 wedstryde per dag kon rugbyentoesiaste na hartelus vir hul gunstelingspan skree. Daar was 45 spanne, van o/14’s tot eerste spanne, wat mekaar oor die vier dae gepak het.

Alhoewel die weer nie saamgespeel het nie en een van die wedstryde weens reën kortgeknip is, het dit nie die spelers gestuit nie.

Organiseerder Albert Booyens sê dat die week ‘n groot sukses was en die spelers en afrigters dit baie geniet het. Robbies se spanne het volgens hom sterk gestaan en daar was ‘n paar naelbytwedstryde gespeel. Hy meen dat die eerstespan ook goed gevaar het, veral aangesien dit ‘n jong span is wat nog baie ontwikkeling nodig het.

Die hoofdoel is om rugbyspanne die geleentheid te gee om kragte met ander te meet sodat afrigters kan sien waar hulle hul spelers die beste tydens ligawedstryde kan gebruik. Dit is goeie voorbereiding vir die seisoen wat voorlê en gee afrigters die kans om mekaar te leer ken en nuwe tegnieke of metodes by mekaar te leer.

Aangesien die rugbyweek hoofsaaklik ‘n vriendskaplike byeenkoms is en dit rugby as sport bevorder, word daar nie wenners aangekondig nie.

Daar is egter ‘n Danie Rossouw Rugby Elite-span uit die eerste span se beste spelers gekies en hulle gaan op 3 Oktober na Ierland toer.

Willem Stassen en Kobus Coetzee van Hoërskool Rob Ferreira en Hadrick Coetzer van Penryn is van die plaaslike spelers wat ‘n plek in die span losgespeel het en hul afrigters sien uit na ‘n skitterende vertoning.

Foto’s deur Matia van der Westhuizen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button