Prettige atletiekdag laat kleuters met breë glimlagte
Die dorp se kleuters en hul ouers het Saterdag hul gate uit geniet by Mickey Muis Kleuterskool se jaarlikse Pretletiekdag op Laerskool Numbi se sportveld.
Sowat 300 kinders van Wonderland, Dienkieland Kleuterskool, Beertjie Skool, Summerhill Prep, Smurfieland, Imphilo Entsha New Life Preschool en Mickey Muis Kleuterskool het aan die geleentheid deelgeneem.
Daar was ‘n verskeidenheid aktiwiteite soos verspring, driebeenresies, aartappel-op-‘n-lepel-resies, hekkies, hoogspring en naellope waaraan elke kind kon deelneem.
Die springkastele was ook ‘n groot treffer en die kleuters se skaterlaggies het oor die veld weergalm.
Die ouers kon ook aan ‘n paar items, soos die aflos, deelneem. Elke skool het ‘n verteenwoordiger gekies, met Mickey Muis en Summerhill Prep se mammas wat die vinnigste was en Beertjie Skool en Summerhill Prep se pappas wat behoorlik laat spaander het.
Die toutrek is deur Mickey Muis en Dienkieland gewen.
Die entoesiasme van die ouers en kinders het vir ‘n heerlike atmosfeer en gees gesorg. Kleuters is met ‘n breë glimlag en ‘n medalje om die nek huis toe.
Die gasheerskool se ouers het gesorg dat haar hope kosstalletjies met lekkernye en koeldranke was om honger magies te vul en energie vir die bedrywighede te verskaf.
Magriet Olivier, die organiseerder en eienaar van Mickey Muis Kleuterskool, wil graag die hoofborge, Spes-Plan Sekuriteit en Tracker, vir hul bydraes en die borg van die medaljes bedank.
Sy wil ook baie dankie sê aan al die ander borge, ouers en ondersteuners wat hulp verleen het om van die geleentheid ‘n groot sukses te maak.
