Bergvlam se eerstes troef NHS
Lowveld High wen teen Penryn, NHS oorrompel Uplands.

Hoërskool Nelspruit se tweede krieketspan het Saterdag die knie gebuig teen Hoërskool Bergvlam se eerstespan. Bergvlam het dié wedstryd op hul tuisveld met 76 lopies gewen.
NHS het die loot gewen en gekies om te boul. Die paaltjies het gereeld geval, maar Junior Kotzé se 33 en Tristan Louw se 25 kon ‘n vennootskap van 68 lopies maak om die tuisspan se telling op 145 te staan te bring.
NHS se aanvangskolwers kon met ‘n goeie vennootskap van 31 begin. Maar Bergvlam se boulaanvaal kon NHS daarna vir slegs 69 lopies uitboul.
Aiden Soine is as speler van die wedstryd aangewys nadat hy vyf paaltjies in agt beurte kon neem, en hy het slegs 15 lopies afgestaan.
Hy is ondersteun deur Tristan Louw wat ‘n paaltjie kon neem in sy sewe beurte en Juan Pretorius wat 1 kon neem in sy 10.
Die wenspan se afrigter, Rihann van der Merwe, het sy spelers geloof.
“Dit was ‘n fantastiese terugvegpoging deur die seuns. Die boulwerk en veldwerk was uitstekend, maar die karakter wat die seuns getoon het, was ongelooflik.”
Van NHS se ander krieketspanne kon wel die afgelope week koning kraai in hul ligawedstryde. Die eerstespan het met agt paaltjies teen Uplands College geseëvier. Triston Parnell het 189 lopies aangeteken in die span se wenpoging.
Die o/15A-span het die knoop met 120 lopies teen Uplands deurgehaak. Die o/14A-span het ook skoonskip gemaak teen Bergvlam en Hoërskool Barberton se o/15A-spanne.
Lowveld High School se eerstespan kon ook teen Penryn s’n wen. Die wedstryd wat ook Saterdag by Penryn gespeel is, is met ses paaltjies deur die besoekers beklink.
- Lees meer oor plaaslike skolekrieket hier.



