Junior Laeveld-span kom naby, maar val vas
Die Hoëveld-span kraai koning by die Mpumalanga interdistriktoernooi.
Die provinsie se distrikte het mekaar die afgelope naweek behoorlik die stryd aangesê op Mbombela se tennisbane.
Hierdie jaarlikse prestige-toernooi tussen Mpumalanga se Laeveld-, Hoëveld- en Wes-Mpumalangaspanne is die hoogtepunt op die junior tenniskalender.
Die drie dag toernooi is vanaf 28 Augustus by Curro Nelspruit, Van Riebeeckpark, Hoërskool Bergvlam, Hoërskool Nelspruit en Matumi Gholflandgoed aangebied.
Vanjaar is die Hoëveld as wenspan gekroon.
- Sien meer foto’s van die junior interdistriktoernooi hier.
Laetitia Fourie, sekretaris van die Laeveld junior tenniskomitee, sê dit bied spelers van alle ouderdomme die geleentheid om kragte te meet teen die room van die provinsie.
“Ons spanne het almal baie goed gevaar.
“Die uitslae was deurlopend baie gelyk en aan die einde van die dag het die gemengde dubbels die verskil gemaak vir die Hoëveld om as wenners uit die stryd te tree.”
Die Hoëveld se o/18-spanne het met die goue medaljes weggestap, met die Laeveld as naaswenners.
Die Laeveld se o/11, o/13 en o/15 seuns kon skoonskip maak en hulle enkels- en dubbelswedstryde teen beide die Hoëveld en Wes-Mpumalanga wen.
Die o/11 dogtersspan kon ook Wes-Mpumalanga se span klop.
“Die dogterswedstryde was deurgaans baie gelyk en hulle het algeheel naelskraap verloor,” verduidelik Fourie.
