Rugbyvelde wemel van die spelers tydens sewes-toernooi
Sewesrugbyspelers van 15 verskillende skole het op 23 en 24 Oktober Laerskool Witrivier se rugbyvelde platgehardloop tydens die eerste Fathers' Ground-sewestoernooi.
Twee-en-dertig o/11- en o/12-spanne van skole soos Laerskool Witrivier, Nelspruit, Tzaneen, Lydenburg en Clivia het vir twee dae kragte op die rugbyveld gemeet in 96 wedstryde ten einde wenners van skild-, beker-, plaat- of trofee-afdelings te wees.
Fathers’ Ground-lede het die worsbroodjiestalletjie en snoepie beman, Oasis het gesorg dat daar volop water was en Trevor Smith Sports het sporttoerusting verkoop. Hulle het ook self die kos gemaak vir skole wat tydens die toernooi in die koshuis geslaap het.
Afrigters en spanbestuurders is die Vrydagaand na ‘n verwelkomingsete genooi en het aan ‘n vark en skaap wat op die spit gebraai is, gesmul.
Daar het ‘n feestelike atmofeer geheers, maar wedstryde is kort na mekaar gespeel en daar was strawwe kompetisie tussen die spanne.
Die wenners van die verskillende afdelings is met medaljes beloon, asook die onderskeie trofeë:
Laerskool Witrivier se tweede o/11-span het die skild gewen, Laerskool Bergland die beker, Witrivier 1 was die plaatwenners en Laerskool Tzaneen het die trofee gewen.
Die o/12’s se trofee-wenners was Laerskool Witrivier, met Laerskool Laeveld wat die plaatwenners was, Laerskool Clivia die bekerwenners en Laerskool Nelspruit die skildwenners.
Die dag was ‘n groot sukses en die deelnemende skole het baie positiewe terugvoer gelewer. Fathers’ Ground vertel dat hulle definitief die toernooi weer volgende jaar sal aanbied.
Fathers’ Ground is ‘n organisasie wat bestaan uit ‘n groep pa’s van Laerskool Witrivier. Hulle poog om deur fondsinsamelingsfunksies ekstra fondse te verkry om die skool se begroting aan te vul.
Vir meer foto’s, klik hier.
