Joubert stel twee nuwe rekords op
Hoërskool Nelspruit se Ilke Joubert het na afloop van Dinsdag se BUCO-interhuisatletiek nie net die rekordboeke twee keer herskryf nie, maar dit ook moeilik vir toekomstige atlete gemaak om haar nuwe rekords te verbeter.

Die o/17-dogter het die diskusmaatband tot 31,67 meter laat afrol (die vorige rekord was 29,83) en die spies ‘n hele 4,73 meter verder laat trek as die rekord van 33,18 meter wat in 2014 opgestel is.
In die dogters o/15-driesprong het Megan Nel en Carli Killian die toeskouers gaande gehad toe albei die rekords van die eerste en tweede plek verbeter het. Megan het ‘n 9,71 gespring (die vorige rekord was 9,02) en Carli was kort op haar hakke met ‘n silwermedalje vir 9,58 meter (die vorige rekord 9,2).
Zander Rutherford (o/14-diskus), Joshua Maas (o/16-verspring), Stefan Smit (o/16-diskus) en Jay Tee Boers (o/15-driesprong) het ook nuwe rekords opgestel. Met Jacques Marais se intreeslag in die hoërskool, het hy die meeste punte van die dag op die Absa-punteleer van 980 verdien met sy afstand van 5,64 meter in die verspringput.
Nellies het môre ‘n vriendskaplike atletiekbyeekoms wat om 08:00 begin.












































