School sportSport

Rhinos skop Tuksreeks af met ‘n sege

NHS het Saterdag met 'n fees van rugby, hokkie en netbal hul Tuksreeks teen Hoërskool Rustenburg afgekop.

Dit het Saterdag op Hoërskool Nelspruit (NHS) se rugbyveld byna gelyk asof Hoërskool Rustenburg (RHS) die Steval/KMIA Rhinos XV se rustydtelling van 21-0 sou inhaal.

Die tuisspan kon egter daarin slaag om nóg ‘n drie aan te teken om sodoende die kragmeting met 28 punte teenoor 21 te wen.

NHS, wat deel van die Tuks-reeks vorm, het die naweek by die huis met ‘n fees van rugby, netbal en hokkie afgeskop.

Gerhard Holtzhausen, afrigter van die Rhinos, het gesê dinge het veral in die eerste helfte besonders goed gegaan, maar in die tweede 35 minute is baie foute begaan. “Ons het nie die ritme gekry wat ons moes nie. Dit is ook die rede dat Rustenburg teruggekom het in die wedstryd en hulle het hulle goed van hul taak gekwyt.”

Holtzhausen sê sy span se sterk punte was dat hulle binne die strukture gebly het sodat elke speler die vryheid gehad het om sy werk te kan doen.

“Daar is ook individue wat baie goed doen, maar dit is nie waarom ons die span bou nie. Harde werk, goeie karakter maak van beter seuns beter Rhinos-rugbyspelers,” het hy gesê.

Die eerstenetbalspan het met 21 doele teenoor 24 die knie teen RHS gebuig, nadat hulle op ‘n stadium 21-elk was.

Netbalspesialis van NHS, Renée Adendorff het gesê Rustenburg is bekend vir die goeie, fisiese netbal wat hulle speel.

“Die spelers het tot aan die einde ongelooflik hard gewerk. Ek dink die span is baie goed gebalanseerd en het baie goeie vaardighede. Hulle het nie teruggestaan vir Rustenburg nie. Hulle het goeie spoed op die bal en beweging gesit en ek is regtig tevrede met hulle senterbaanspel en die verdediging was baie goed.

“Ek probeer hulle leer om kreatiewe netbal te speel. Ons moet nou net die balans vind van wanneer om kreatief te wees en wanneer om ou skool te wees. Dit sal interessant wees om te sien wat gebeur teen Florida.”

Die eerstedogtershokkiespan het Rustenburg met twee doele teenoor nul getroef en die seuns het met 2-1 gewen. NHS speel vandag weg teen Hoërskool Florida.

Ander uitslae
Rugby
Tweede span NHS 29 – 21 RHS
O/16A NHS 12 – 13 RHS
O/15A NHS 5 – 13 RHS
O/14A NHS 7 – 15 RHS.

Netbal
Tweede span NHS 9 – 20 RHS
O/17 A NHS 22 – 10 RHS
O/16 A NHS 14 – 22 RHS
O/15 A NHS 18 – 22 RHS
O/14 A NHS 6 – 23 RHS

Hokkiedogters
Tweede span NHS 2 – 0 RHS
O/16 A NHS 6 – 0 RHS
O/15 A NHS 3 – 0 RHS
O/14 A NHS 9 – 0 RHS.

Hokkieseuns
O/16 A NHS 1 – 2 RHS
O/14 A NHS 0 – 3 RHS.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button