Twee plaaslike atlete beste in die land
Lowveld High School se Nolwazi Mashaba (o/15) en Hoërskool Nelspruit se Werner Bouwer (o/19) is Suid-Afrika se nuutgekroonde driesprong- en spiesgooi-kampioene onderskeidelik.

Bouwer spog met nóg ‘n spiesgooimedalje in sy sak nadat hy met ‘n praggooi van 67,30m as die nuwe SA kampioen gerkroon is. Nolwazi het goud verower met ‘n massiewe sprong van 11,05m.
Die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe vir o/14, o/17 en o/19 het die afgelope naweek in Bloemfontein plaasgevind.
Werner het ook in 2013 goud in dié item verower. Die atleet, Hernu van Vuuren van Hoërskool Voortrekker wat verlede jaar die eerste plek onder Werner se neus weggeraap het, moes vanjaar met ‘n tweede plek tevrede wees met ‘n afstand van 66,36m,
“Dit is net weereens ‘n groot voorreg. Ek wou bittergraag verlede jaar ook ‘n medalje verower het, maar ek het sedert verlede jaar begin oefen vir vanjaar se kampioenskappe. Jy moet dit self ervaar om te weet hoe dit voel om SA se beste te wees. As dit nie vir my afrigter, DP Badenhorst was nie, was ek beslis nie waar ek nou is nie,” vertel Werner,
Naas Marais se volgehoue, getroue en harde werksetiek, het ‘n soetesmaak gelewer, toe hy ‘n silwermedalje in skyfwerp (o/17) verower het. Alhoewel dit nie sy beste gooi van die jaar was nie, was hy steeds tweede met 53,93m (sy naasbeste is 55m). “Dit is harde werk om na die SA’s deur te dring – dit het my drie jaar gevat om ‘n medalje te kry. Daardie dag het die werklikheid nog nie ingeskop nie, maar eers die volgende dag,” sê Marais.
Volgens die atletiekspesialis van NHS, Badenhorst kan die twee atlete se prestasies aan harde werk en toevertrouing toegeskryf word. “Dit is die resep tot sukses, nie net in atletiek nie, maar in alle fasette van die lewe. Dis vir my as afrigter ‘n voorreg om albei van die seuns te kan afrig. Om sukses te bereik met atlete moet dit van albei kante af kom. Ek dink albei het nog twee groot gooie in hulle, wat tydens Atletiek Suid-Afrika se junior-, jeug- en subjeug-kampioenskappe kan uitkom. Dit vind 31 Maart tot 2 April in Germiston plaas.”
NHS se Jessica Berry (o/15) se naam behoort ook genoem te word. ‘n Voormalige Nellie, Lubina Schutte het in 1989 in die 1 500m ‘n rekord van 4:51.00 opgestel, Al het Jessica agtste geëindig, het sy die rekord verbeter met 4:49.08.
Die jongeling van Hoërskool Rob Ferreira, Amos Khoza (o/15) het nes tydens die Mpumalanga-kampioenskappe in Secunda, wéér gewys wat hy werd is en ‘n derde plek in die 800m en ‘n vierde plek in die 1 500m verower. “Ons as skool is trots op die sewe atlete wat onder die top-10 geëindig het. Ons kan melding maak van Amos met sy puik prestasie. Thulani Lukhuleni, Amos, Christine Kruger, Innocentia Nkhwashu en Nkosana Mpainga kan in Germiston tydens die SA Junior-kampioenskappe wéér die geleentheid kry om op die verhoog deel te neem en hopelik goed te doen,” sê die atletiekorganiseerder van Robbies, Stefan van der Merwe.
Bergvlam se Maudas Banda wat ‘n 7,40m in Secunda in die verspringput behaal het, het ‘n teleurstellende afstand van net 7,12m gespring en moes met ‘n silwermedalje tevrede wees. Dit was wel ‘n nuwe rekord wat hy opgestel het. Die atleet wat die item gewen het, Crissio Roberts (Wes-Kaap) het maar 7,25m gespring. “Ek is steeds trots op my silwermedalje, maar dit is nie die uitslag waarvoor ek gehoop het nie. Ek wil nou aan my foute werk en met die volgende byeenkoms heelwat beter vertoon,” sê Banda.
Lowveld High se steratleet, Norbert Ponisammy het vir die 100m en verspring deurgedring, maar as gevolg van ‘n skenkelbesering waarmee hy al ‘n rukkie lank sukkel, kon hy nie die 100m voltooi nie. LHS se Gugu Nkabule spog wel met ‘n bronsmedalje in die verspringput vir dogters o/19 met ‘n afstand van 5,87m.
Penryn se Adam Leslie wat aan die 100- en 200m sou hardloop, het net aan die uitdunrondes deelgeneem en ook as gevolg van ‘n skenkelbesering onttrek.




