Rhinos vat grotes aan in kwarteind
Die Steval/KMIA Rhinos speel die naweek in die kwarteindstryd van die Tuksreeks teen Hoërskool Kemptonpark nadat hulle Saterdag 45-27 met Pietersburg afgereken het.

Monument het Kempies 43-16 geklop en kom teen Rustenburg te staan, teen wie NHS in die eerste ronde van die reeks 28-21 gewen het.
Die Rhinos speel Saterdag sonder twee van hulle sterspelers, die losskakel Stephan van der Bank en die slot KP de Jager. “Elke wedstryd wat ons nou speel, is vir ons soos ‘n eindstryd. Ons moes ‘n hele paar posisieveranderinge aanbring met die dat Van der Bank en De Jager beseer is. Marius Slabbert sal op slot uitdraf, die heelagter Francois Esselen skuif nr. 10 toe met Craig Bouwer wat Esselen se plek inneem en Chris van der Merwe wat vleuel toe skuif,” het die afrigters Chris Mans en Gerhard Holtzhausen gesê.
Alhoewel die o/15’s Saterdag teen Pietersburg met een enkele punt 11-12 verloor het, het hulle steeds na die kwarteind deurgedring en kom ook teen Kempton te staan.
Net Hoërskool Nelspruit se eerste netbalspan sal nie die naweek na Rustenburg, waar die kwarteindstryde gespeel word, reis nie. Die dogters het net-net 28-30 die knie teen Pietersburg moes buig. Die o/17’s en o/14’s speel teen Kempton terwyl die o/16’s en o/15’s hard sal moet werk om Monnas te klop.
Albei NHS se eerste seuns- en dogtershokkiespanne sal ook Saterdag in aksie wees teen Transvalia. Die o/15- en o/16-dogters kom ook teen die spanne van Vanderbijlpark te staan terwyl die o/14’s teen Monnas speel.
Die o/16-seuns speel in die eerste wedstryd van die dag teen Transvalia.














































