Marais haal finale span, toer afgestel
Nie net is die finale jeugspan (o/18) later aangekondig as wat Atletiek Suid-Afrika (ASA) aangedui het nie, maar drie dae later is 'n e-pos uitgestuur dat die kampioenskappe ook gekanselleer is.

Die plaaslike skyfwerpatleet van Hoërskool Nelspruit, Naas Marais was ingesluit in die voorlopige span wat aan die einde van die maand in Maseru, Lesotho aan die Afrika Suidelike-streekskampioenskap sou deelneem.
ASA sou teen Woensdag 13 April die finale span aankondig, maar dit eers is daardie Maandag gefinaliseer.
In die skrywe word daar aangedui dat die jeugkampioenskappe weens verskeie redes gekanselleer is. Dit kan moontlik aan die tekort aan kapasiteit van die buurland toegeskryf word maar die hoofrede kan die begroting wees. Die voorsitter van die ASA-afrigtingskomitee, Hugo Badenhorst het wel ‘n versoek aan die organisasie gerig dat die span aan die SA Ope wat 7 Mei in Bloemfontein plaasvind, deelneem.
“‘n Ou werk na die nasionale kampioenskappe toe. Ons het aan die einde van Januarie geweet ‘n span word saamgestel. Die atlete word by SA’s gekies, en daar weet ons reeds wat die kwalifiserende afstande is. Na SA’s het Naas steeds hard gewerk vir die nasionale span en na ‘n maand het daar niks van gekom nie,” sê die atletiekspesialis van NHS, DP Badenhorst.
Tydens die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe in Bloemfontein het Marais ‘n silwermedalje in skyfwerp (o/17) verower. Alhoewel dit nie sy beste gooi van die jaar was nie, was hy steeds tweede met 53,93m. In die Germiston Stadion tydens die ASA-kampioenskappe, het die leerder van NHS die diskus 56,59m ver laat slinger en so op die boonste trappie van die podium gestaan.
