Rhinos vir derde keer in eindstryd
Die Steval/KMIA Rhinos speel vir die derde keer sedert hulle in 1998 deel van die Tuks-reeks geword het, in die eindstryd.
Die verdedigende kampioene, EG Jansen is die afgelope naweek deur die Rhinos uitgeskakel danksy Stephan van der Bank wat in die doodsnikke ‘n strafdoel deur die pale geklits het. Die Rhinos was met 31-29 baas.
Die span van Hoërskool Nelspruit kom Saterdag 7 Mei teen Monument te staan. Monnas het Garsfontein in die halfeindstryd met 29-11 vermorsel. Hulle lê tans 11de op die nuutste rugbyranglys wat Maandag bekendgemaak is terwyl NHS in die 23ste plek staan.
Nelspruit het voorgeloop tot met net ses minute oor, voordat die skakelpaar van Jansies, Ginter Smuts en Ruben Beytell albei drieë gedruk het om aan hulle span ‘n voorsprong van 29-28 te gee. Die skrumskakel, Smuts, wat ook albei verdoel het, se drie was ‘n minuut voor die eindfluitjie geblaas het.
Die Rhinos se senter, Riaz Adebayo het Jansies se probleme op die verdediging besorg en twee keer die doellyn besoek.
EG Jansen se losskakel, Beytell het ook die drieë ingeryg en ook twee keer vir ‘n vyfpunter oorgeduik. In 2001 het Rhinos teen Afrikaans Hoër Seunskool in die eindstryd verloor en die volgende jaar teen HTS Middelburg. NHS was sedert 2012 onder die top vier. Hulle het teen die einste Monnas verlede jaar in die halfeindstryd met vier punte verloor.
Die netbal is reeds Saterdag op die Universiteit van Pretoria se sportgronde afgehandel met die o/15A-netbalspan wat ‘n algehele tweede plek behaal het nadat hulle teen Hoërskool Rustenburg die knie met 14-18 moes buig.
