Rhinos wil Wit Bulle gaffel
Al wat jy sien is die swart masjien! Hoërskool Monument gaan Saterdag wéér in swarttruie vaskyk wanneer hulle in die Tuksreeks-eindstryd teen Hoërskool Nelspruit te staan kom.

Monnas het Maandag in die Wildeklawer-toernooi teen Outeniqua, wat in swart uitgedraf het, pakslae gekry.
Die Steval/KMIA Rhinos speel in hulle derde eindstryd, maar kon nog nooit die gesogte trofee omhoog hou nie. Die span wat die verdedigende kampioene, Dr EG Jansen twee weke terug in die halfeindstryd met 31-29 geklop het, bly onveranderd vir die naweek se stryd by die Universiteit van Pretoria se sportgronde.
Die Wit Bulle het verlede jaar in die halfeind, NHS met drie punte uitgeskakel.
“Die twee weke het ons aan klein dingetjies geskaaf om die finale afronding in plek te kry. As ons ons balle in die vastefasette kan beheer en hulle in die lynstane kan ontwrig, is ons koppe deur,” sê die afrigters, Chris Mans en Gerhard Holtzhausen.
NHS wil Monument se sleutelspelers, die haker, PJ Botha en die senter, MJ Pelser ook van die bal weghou. In 2001 het Rhinos teen Afrikaans Hoër Seunskool in die eindstryd verloor en die volgende jaar teen HTS Middelburg.
Die o/16A-rugbyspan speel in die skildeinstryd teen Hoërskool Kemptonpark vir plek nege en 10, terwyl die o/15’s vir plekke 13 en 14 teen Eldoraign speel.
Die o/14’s gaan kragte teen Klerksdorp vir plek 11 en 12 meet. Die o/16A-seunshokkiespan speel Saterdag in die eindstryd teen Rustenburg vir plek een en twee, die o/14’s teen Centurion vir nege en 10 en die o/18A’s vir drie en vier teen Monnas.
Die dogtershokkiespanne se o/14’s en o/15’s speel albei vir plekke vyf en ses teen Eldoraign terwyl die o/18’s teen Monument uitdraf en die o/16A’s teen Kempies vir die sewende en agtste plek.
Loer hier na die Rhino en Wit Bulle se span: Die beker wink vir NHS se rugbytrots

