School sportSport

Jong skaakspeler maak al die regte skuiwe

'n Sewejarige skaakspeler het beoordelaars só beïndruk, dat sy genooi is om Suid-Afrika by die African Youth Chess Championships (AYCC) in Augustus te verteen-woordig.

Kayla Smith, ‘n gr. 2-leerling van Laerskool Malelane, speel slegs vyf maande skaak en geniet tot dusver elke oomblik daarvan.

Haar ma, Katrien, vertel dat haar boetie Hano (gr. 5) verlede jaar aan die SA Junior Skaak-kampioen-skappe deelgeneem het en sy Ehlanzeni-kleure verwerf het. Dit het toe vir Kayla so lekker gelyk dat sy ook wou speel en Hano het haar touwys gemaak.

Sy neem aan elke moontlike toernooi deel en het tot dusver elke keer eerste in haar ouderdomsgroep gekom, wat haar ouers baie trots maak.

Sy leer elke week meer en meer by die skool se skaakafrigter, Pieter Janson, wanneer hy oefen en waardeer sy leiding.

Katrien vertel dat sy en haar man die kinders na elke moontlike toernooi toe neem en hulle ondersteun waar hulle kan, sodat die tweetjies na hartelus kan speel.

Wanneer Kayla nie voor ‘n skaakbord sit nie, neem sy aan ‘n verskeidenheid aktiwiteite deel. Dit is haar droom om eendag hoofmeisie te wees en sy wil graag uitblink in wat ook al sy aanpak.

Die AYCC vind vanaf 21 tot 29 Augustus in Port Elizabeth plaas en jong skaakspelers van meer as 40 Afrika-lande gaan deelneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button