Bergland wil hul titel verdedig
Laerskool Nelspruit se Ford Nellie Leeus het die afgelope Donderdag met Laerskool Witrivier 8-3 afgereken om so na die halfeindstryd teen die twee streke, Gert Sibande en Nkangala deur te dring.

Die verdedigende Mpumalanga-kampioene, Laerskool Bergland is die ander buurskool wat vandag in Secunda te staan kom.
Whities en Nellies het twee weke terug sake op laasgenoemde se velde uitgespook met Whities wat 10-7 gewen het. Die besoekers moes met agt of meer punte gewen het om bo Nelspruit op die punteleer te eindig. Die wedstryd is Donderdag oorgespeel met Nellies wat as wenners uit die stryd getree het.
Lees ook: Whities staan vas in tweede ronde
Bergland, Ehlanzeni se nommer een, se eerstes en o/11’s het dié seisoen nog nie ‘n wedstryd verloor nie.
Die o/13’s het opspraak teen Nelspruit Primary en Laerskool Lydenburg gemaak. Bergland het na afloop van die liga 187 punte aangeteken met net 24 punte teen hulle. “Hierdie jaar se span en dié van 2015, is een van my twee sterkstes in my nege jaar as eerstespan-afrigter. Sedert 2009 het ons sewe Mpumalanga-wenners gehad. Net in 2014 het ons nie ‘n span gehad wat die titel verower het nie,” sê Tobie Pretorius.
Lees ook: Bergies gereed vir opwindende jaar
Die kragmeting tussen Whities en Nellies het ondersteuners op die punt van hulle stoele gehad. Daar was geen keer aan die skopskoen van Witrivier se Christiaan Gates nie. Hy het ‘n strafskop vroeg in die eerste helfte deur die pale gestuur en die bal goed in die hoekies geplaas met die rustydtelling 3-0 in die span se guns.
Die drie deur Nellies se linker-senter, Ewan Nieuwoudt, in die tweede helfte het die Nellie-ondersteuners aan die praat gehad. Drikus Greeff het nie die drie verdoel nie, maar met ‘n strafskop later geslaag om Nellies ‘n voorsprong van 8-3 te besorg. Die laaste paar minute van die stryd was ‘n naelbyter met Witrivier wat gedurig op hulle teëstanders se doellyn geboer het, maar die rotsvaste verdediging van Nellies was een te veel.
Lees ook: Besoekers gee jong spelers opdraande
Bergies kom teen Laerskool Middelburg te staan terwyl Nellies teen Laerskool Kragbron speel. “Ons verwag ‘n titaniese stryd vandag. Die span wat hul balbesit die beste gaan beskerm, behoort die wedstryd te wen,” sê Nellies se afrigter, André Drummond.
So speel die res van die ouderdomme:
O/9
• Lydenburg vs. Goedehoop
• Nellies vs. Kruinpark
O/10
• Nellies vs. Middelburg
• Witrivier vs. Goedehoop
O/11
• Bergland vs. JJ van der Merwe
• Laeveld vs. Goedehoop.
Laerskool Nelspruit vs Laerskool Witrivier

























