Komati se o/18’s is beste netbalspan
Komatipoort Akademie se o/18-netbalspan is verlede naweek as die kleinskolewenners by die Mpumalanga Skole Netbal se A-ligatoernooi aangewys.
Komatipoort Akademie se o/18 netbalspan kon op hierdie hoë noot hulle senior spelers groet en die netbalseisoen afsluit.
Janine Steyn, afrigter van die eerstes, is baie trots op haar span wat as Ehlanzeni-wenners in Witbank aangekom het en as Mpumalanga-wenners huiswaarts gekeer het. “Ons het vir vyf jaar hard gewerk om bo uit te kom en ek is dankbaar dat ons met goud beloon is. Hierdie besondere span, wat reeds in 2014 hulle eerste goud verower het, is ‘n absolute baanbrekergroep vir Komatipoort Akademie. Daar is nog ‘n paar van die sleutelspelers wat nog ‘n jaar of twee oor het om die beker op tuisbodem te hou en hulle begin binnekort weer met voorbereiding vir die volgende seisoen.”
Op hul beurt was die kinders weer vol lof en waardering vir hul afrigter. Pauline de Bruin het op sosiale media geskryf: “Kon dit nie sonder Juffrou gedoen het nie, baie dankie vir Juffrou se moeite deur die jare. Ons het bereik wat ons altyd wou te danke aan Juffrou!”
Zhane Norval het weer laat weet: “Juffrou is amazing. Baie dankie vir alles. Gaan Juffrou baie mis.”
“So ‘n ongelooflike voorreg om die laaste jaar te kon deel wees van so ‘n ongelooflike span! Dankie vir die onmiddellike aanvaarding en verwelkoming! Dis ‘n coach en span wat vir ewig in my hart en gedagtes sal wees!” het Izel Potgieter geskryf.
